Min Shaw is een van die legendariese stemme op sowel die Afrikaanse as Engelse musiekmark. En op 26 November 2016 vier sy haar 82ste verjaardag.

Min het ook 'n paar keer op die silwerdoek 'n draai gemaak. Een van die bekendste flieks was Hoor My Lied (1967) met Gé Korsten in die hoofrol.

In 1968 volg Jy Is My Liefling waar sy teenoor Franz Marx optree. Hier is die klankbaan van die temalied soos deur Min vertolk.

Daarn volg Die Danie Bosman Storie (1969) en Lied in My Hart (1969) waarin Min teenoor Gé Korsten en Mitzi Stander optree.

Sy is as Wilhelmina Jacoba Viviers op 26 November 1934 in Johannesburg gebore. Haar paaie kruis op skool met dié van Suid-Afrika se wêreldbekende operasangeres, Mimi Coertze toe sy in st. 7 en Mimi in matriek was.

Min het eers in restaurante in Johannesburg en Benoni gesing, maar in 1961 wen sy 'n kompetisie wen wat deur die musiekradiostasie LM Radio aangebied is. Haar prys: 'n reis na Londen. Dit sou ook daar wees dat sy vir die eerste keer op televisie verskyn het.

Op aandrang van die bekende orkesleier Dan Hill het Min plaatopnames gemaak. Dit het gelei tot die uitreiking van haar eerste solus-sewe, Kleine nagtegaal, in Junie 1966.

Die plaat het goed gevaar en sy het ná ses jaar besluit om die onderwys te laat vaar en sang haar loopbaan te maak.

Min het meer as 40 albums uitgereik en na raming meer as 500 liedjies opgeneem. Saam met Lance James het sy een van die gewildste Afrikaanse sangpare gevorm met trefferplate soos Bymekaar (1968) en Weer bymekaar (1982).

Nadat sy in 1975 het sy hoofsaaklik geestelike plate opgeneem.

In 2011 keer Min Shaw terug met haar eerste album in 15 jaar- God Is My Stem. Die album is goud nog voor dit op die rakke verskyn het.

Sy het in 1989 met die groot liefde van haar lewe, Willie van Blerk getrou. Ongelukkig het Willie in September 2016 aan prostaatkanker gesterf.

In 2011 neem Min weer 'n album op en begin toer soos in die ou dae. En in 2012 is sy deel van die boek: Gee Haar –'n Roos Die lewensverhaal van Cora Marie.

Op 28 Maart 2015 was Min saam met Lance James, Clive Bruce, Tommy Dell en Shaun Mynhardt in die Kaap vir 'n Huldeblyk aan Cora Marie. Min het 'n staande toejuiging ontvang toe sy op die verhoog verskyn. Niemand wou glo dat sy 80 jaar oud is nie! Haar stemkwaliteit en haar mooi gelaatstrekke is steeds sprankelend en tydloos.

Op 31 Oktober 2015 was Min Shaw te sien in Pretoria by die Centurion Teater as deel van die Country Legendes-'n Huldeblyk konsert.

Toekennings

1. Min Shaw het drie gesogte Sarie-toekennings gekry en twee goue plate, 'n platinumplaat en 'n dubbelplatinumplaat (vir die rekordverkope van haar gospel-albums).

2. Sy is in 1996 deur die ATKV vereer vir haar bydrae tot die bevordering van ligte Afrikaanse musiek.

3. In 2009 is sy en Lance James by Huisgenoot Skouspel vereer vir hul lewenslange bydrae tot die Afrikaanse musiekwêreld.