Jans Rautenbach het met sy rolprente soos Die Kandidaat, Katrina, Jannie Totsiens en Broer Matie die fondamente van die Suid-Afrikaanse rolprentlandskap geskud. Anna-Marie Jansen van Vuuren het ter viering van sy 80ste verjaardag, 22 Februarie 2016, met hierdie fotoflitse van Jans se lewe en loopbaan hulde gebring aan ’n legende.

JANS SE SKILDERY

[caption id="attachment_118429" align="alignnone" width="600"]Foto: Jans se se persoonlike versameling Foto: Jans se se persoonlike versameling[/caption]

Jans is op 22 Februarie 1936 in Boksburg gebore waar hy ook by Hoërskool Voortrekker matrikuleer. Hy studeer aan die Universiteit van Stellenbosch en die Universiteit van die Vrystaat, voordat hy in 1960 die eerste universiteitsgekwalifiseerde kriminoloog by die Suid-Afrikaanse gevangenisdiens word. Daarna sluit hy in 1963 by Jamie Uys Films aan om sy droom na te volg om ’n rolprentmaker, oftewel ’n “prentjieskepper” te word.

EMIL NOFAL EN JANS

[caption id="attachment_118430" align="alignnone" width="600"]Foto: Jans se persoonlike versameling Foto: Jans se persoonlike versameling[/caption]

Emil Nofal was Jans se mentor sedert sy Jamie Uys Films-dae. Hulle werk saam aan die fliek King Hendrik, voordat hulle wegbreek en in 1965 Emil Nofal Films begin. In 1968 maak Jans sy eerste fliek as regisseur, genaamd Die Kandidaat. In laasgenoemde fliek kyk hy krities na die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Ten spyte van die kritiese manier waarop dié fliek na die Afrikaner se psige en samelewing gekyk het, kry hulle ’n erepenning van hierdie einste akademie vir die fliek Die Kandidaat. Hierdie foto is op daardie geleentheid geneem.

DIE KANDIDAAT 1968

[caption id="attachment_118431" align="alignnone" width="600"]Foto verskaf deur Mnet. Foto verskaf deur Mnet.[/caption]

Die stel waarop Die Kandidaat verfilm is, is spesiaal vir dié fliek gebou. Die rolprent is as baanbrekerswerk beskou, nie net oor die tema nie, maar ook oor die manier waarop Jans kameraskote, beligting en rekwisiete gebruik het om ’n storie te vertel.

KATRINA 1969

[caption id="attachment_118433" align="alignnone" width="600"]Foto verskaf deur Mnet. Foto verskaf deur Mnet.[/caption]

Katrina was seker een van die mees omstrede rolprente wat ooit tydens die Apartheidstyd gemaak is en aan Suid-Afrikaanse gehore uitgereik is (dus nie verban of gesensor is nie). Dit handel oor ’n bruin vrou en haar seun wat as wit geklassifiseer word en as deel van dié samelewing leef. Dié rolprent word vandag nog as deel van die kurrikulums van plaaslike en internasionale filmskole en universiteite behandel.

JANNIE TOTSIENS 1970

[caption id="attachment_118434" align="alignnone" width="600"]Foto verskaf deur Mnet. Foto verskaf deur Mnet.[/caption]

In Jannie Totsiens het Jans die Afrikaner-gemeenskap asof in ’n "malhuis" uitgebeeld. Volgens hom het die Afrikaner vir homself hierdie struktuur geskep. Dié fliek is as Suid-Afrika se eerste avant-garde rolprent beskou, omdat dit surrealistiese beelde gebruik het om ’n storie te vertel, wat ook glad nie ’n tradisionele storie met ’n begin, middel en einde vertel het nie. Dit het die meeste gehore vervreem, en volgens Jans verstaan die meeste kykers vandag (2016) nog nie eintlik waaroor hierdie fliek gaan nie.

ATHLONE MAGNIFICENT SEVEN

[caption id="attachment_118436" align="alignnone" width="600"]Foto: Uit Jans se persoonlike versameling Foto: Uit Jans se persoonlike versameling[/caption]

Nadat Jans in 1984 rolprente soos Die Matie en No one Cries Forever gemaak het, keur hy sy rug op die rolprentbedryf om homself op ander projekte toe te spits. Hy word een van die stigterslede van die KKNK en bring ook ’n laerskool op die been in Vlakteplaas. Hierdie laerskool is tot op hede die enigste plattelandse laerskool met só ’n groot fokus op kuns en musiek onderrig en daarom word hy in 2013 deur die ATKV vereer vir sy bydrae tot sy plaaslike gemeenskap.

DJ MOUTON EN JANS RAUTENBACH

[caption id="attachment_118437" align="alignnone" width="600"]Foto: Uit Jans se persoonlike versameling Foto: Uit Jans se persoonlike versameling[/caption]

In 2014 maak Jans sy eerste fliek in 30 jaar, Abraham. Abraham sou ’n outobiografiese werk wees waarin hy dié keer kritiek op homself lewer, omdat hy as jong man ’n bruin kunstenaar, ’n dromer, uit sy eie gemeenskap, se stem misken. Hy lewer ook kritiek op die hedendaagse samelewing, deur te wys dat die bruin mense se situasie sedert die dae van Katrina en Broer Matie, selfs in die nuwe millennium nog nie veel verander het nie. ’n Filmdosent by Tukkies, Chris Broodryk, beskryf Abraham as ’n storie wat “die regte boodskap, op die regte tyd” oordra. Hier is Jans saam met die akteur wat die hoofkarakter in Abraham vertolk, DJ Mouton.

? Anna-Marie is ’n dosent by die departement van joernalistiek, film en televisie by die Universiteit van Johannesburg, en ’n deeltydse joernalis by Monitor, RSG Nuusaktualiteit.

Ander stories op Huisgenoot.com

Friends-reünie groot teleurstelling vir lojale aanhangers

Rooibos se ‘ma’, dr. Annique Theron, sterf in die ouderdom van 86

Kyk: Gewilde sanger pak nare gewoonte om op jou selfoon te wees terwyl jy bestuur in musiekvideo

Kyk: Oorstelpte vrou en haar hondekind ná maande lange soektog herenig

Kyk: Joost sê dankie vir lesers se pragtige boodskappe met spesiale foto van hom en sy kinders