Daar is soveel slaggate – moet jy jou eks as vriend verwyder nadat julle opgebreek het? En wat doen ’n mens aan jou nuwe ou se eks wat aanmekaar boodskappe op sy muur skryf? En dan is daar die nuwe rugbyspeler wat pas van ’n ander dorp na jou skool gekom het. Urg!

Hier is raad sodat jou FB-romanse ’n gelukkige einde kan hê!

Flirt so op Facebook

  • Hier is ’n paar subtiele maniere om die ou wat jy in die oog het te laat weet hoe jy oor hom voel:
  • Skryf ’n oulike boodskap by een van sy ou foto’s, want dan sal hy weet jy het deur al sy foto’s gekyk.
  • Maak ’n grappie in jou Facebook-status wat net hy sal verstaan. As hy reageer, het jy die groen lig om geselsies te maak!
  • Laai iets op sy muur waarvan hy sal hou, soos ’n YouTube-video uit een van sy gunsteling-flieks. Dit sal hom wys hoe goed jy hom ken.

WARE VERHAAL! "Sy oulike status het my gevang!"

*Annemarie het geweet *Pieter hou van haar toe hy iets romanties in sy status geskryf het.

"Ek en Pieter het vreeslik op skool met mekaar geflirt, maar nie een van ons het die moed gehad om iets te sê nie. Ons het oor en weer op mekaar se Facebook-statusse kommentaar gelewer en gewys as ons iets ‘like’. Toe eendag bel ’n ander pel en sê: ‘Gaan dadelik op Facebook en kyk wat Pieter geskryf het!’ Ek was dadelik aanlyn, en dit was so cool: Hy het my naam in sy Facebook-status geskryf, en dit toe self ‘ge-like’. Dit het gelees ‘Annemarie’ . . . Pieter like dit’. Ek was mal daaroor dat hy dapper genoeg was om al sy Facebook-vriende te vertel hoe hy oor my voel. Ons is nou al amper ses maande lank ’n paartjie."

Wat gebeur as julle uitgemaak het?

As jy en jou eks op slegte voet uitmekaar is, bly weg van Facebook as jy jou nie kan inhou nie. Dit sal dinge net erger maak. Hou by dié reëls as die verhouding verby is:

As jy met hom uitgemaak het:

  • As julle Facebook-vriende bly, moenie jou verhoudingstatus te gou verander nie – dit sal hom net nog seerder maak. Wag darem ’n week, of tot hy eerste sy verhoudingstatus verander.
  • Moenie lelike goed oor hom sê of openlik met ander ouens op Facebook begin flankeer nie. Behandel hom soos jy wil hê ander jou moet behandel.

As hy met jou uitgemaak het:

  • Moenie op Facebook kerm oor jul verhouding en hoe hy jou hart gebreek het nie. Gaan blaas stoom af by jou ma en pa, of pelle. Of wat van ’n dagboek? Niemand lees dit nie, maar dit gee jou kans om oor goed te dink. Jou hele Facebook-vriendekring hoef nie als van jul mislukte verhouding te weet nie.
  • Moenie as jy kwaad is vieslike boodskappe op sy muur skryf nie. Dit sal jou desperaat laat lyk, en van jou trollie af. Nee wat, behou jou waardigheid, en wees die sterk, volwasse meisie wat jy eintlik is.

Jy en jou eks – bly julle vriende of nie?

As die verhouding rampspoedig tot ’n einde gekom het, verwyder hom as vriend en kry hom uit jou lewe. Maar as dinge oukei is en julle nog vriende op Facebook wil bly, kan jy steeds seker maak jou eks spook nie oral op die sosiale netwerk by jou nie. Gaan na een van sy muurplasings, regsklik op die kruisie, en kies ‘hide this post ’ of ‘hide all’ – dan sal jy nie meer nuus oor hom kry nie. As jy hom glad nie meer op jou Facebook-blad wil sien nie, laai die Eternal Sunshine-app by Google Chrome af, dan sal hy nêrens op jou Facebook-blad verskyn tensy jy sy naam soek nie. Dit keer dat jy op nuwe foto’s van hom afkom onder fotoalbums net wanneer jy gedink het jy is nou finaal oor hom!

Verander jou verhoudingstatus sonder drama

As jy nie 27 ‘Is jy okei?’-boodskappe wil kry wanneer julle opbreek nie, doen die volgende:

  • Gaan na “privacy settings”.
  • Klik op “customise settings” binne die “sharing on Facebook”-seksie.
  • Gaan na “relationships” onder “things I share” en kies “custom”.
  • Verander na “only me” voor jy jou status verander. Op die manier sal die verandering in jou verhoudingstatus nie by almal wys nie. Verander die verstelling dan maar later wanneer die stof eers gaan lê het.

WARE VERHAAL! “Ek is uitgevang!” stalking

Ons verstaan maar te goed. Daar’s ’n nuwe ou in die skool, en hy het jou oog gevang. Natuurlik gaan jy op sy profiel loer. Maar pasop dat dit nie ’n obsessie word nie. Vra maar vir Maria* (15), sy het dit op die harde manier geleer.

“Die nuwe ou in ons skool is so hot! Ek het aanmekaar na sy profiel gekyk wanneer ek saans huiswerk op my rekenaar doen, en seker 50 keer oor naweke. Een dag wou ek iets op my muur skryf, maar toe skryf ek dit per ongeluk op syne! Ek het dit ’n paar minute later besef en geskrap, maar hy moes dit gesien het, want ’n paar dae later het hy my voor almal ‘n ‘Facey stalker’ genoem!”

Raak “amptelik” op Facebook

Reg, so julle het al gesoen, en is so te sê ’n paartjie – maar hoe kondig jy dit op Facebook aan? Sê vir jou nuwe ou iets soos: ‘Al my pelle wonder wanneer ons dan ons status gaan verander – wat dink jy?’ En moenie te bekommerd wees as hy nie oorgretig lyk nie, dalk dink hy net dis onnodig.

Wie is daai meisie?!

Het ’n flirterige opmerking op jou ou se muur jou groen van jaloesie gemaak? As jy vies is, wag eers ’n paar dae en vra hom dan ongeërg daaroor uit. Probeer iets soos: “Hoe ken jy daai meisie wat op jou muur geskryf het? Sy lyk vir my bekend . . . ”

WARE VERHAAL! “Ek het op Facebook uitgevind hy verneuk my!”

Carly* (17) was geskok toe sy foto’s van haar ou saam met ’n ander meisie op Facebook sien.

“Ons het drie maande lank uitgegaan toe hy my eendag uit die bloute SMS en sê: ‘Ek het net vandag met ’n vriendin uitgegaan. Niks het gebeur nie.’ Ek het nie geweet waarvan hy praat nie, maar later op FB gesien hy is in foto’s saam met ’n meisie wat ek nie ken nie. Hulle het vreeslik verlief gelyk. Ek het hom gekonfronteer en toe kom dit uit hy het my met haar verneuk. Sy wou natuurlik hê ek moes hulle saam sien sodat ons kon opbreek, en my eks het nie geweet hoe om te keer dat ek die foto’s op Facebook sien nie! Maar baie van ons pelle het dit gesien. Ek het baie verneder gevoel. Maar die nuwe meisie het haar sin gekry, want ek het daardie dag nog met hom uitgemaak.”

*Skuilname