Dis winter en menige ma wil weet: Moet my kind ’n vitamienaanvulling drink? En sal dit ’n loopneus keer of is dit net geldmors? Ons het by kenners gaan kers opsteek.

Wat is die doel van vitamienaanvullings?

Dié pilletjies, kapsules en poeiers – enigiets van Jelly Vites-koutablette tot Centrum – help dat jou kind genoeg van die regte minerale en voedingstowwe inkry wat hul immuunstelsel gesond hou. As jou kleinding byvoorbeeld nie lief is vir broccoli nie, sal ’n vitamien C-aanvulling ’n manier wees om te sorg dat hulle wel die aanbevole hoeveelheid daarvan inkry.

Kinders wat kieskeurig is oor wat hulle eet en dié met immuunafwykings kan beslis voordeel trek uit aanvullings, sê dr. Iqbal Karbanee, ’n pediater van Kaapstad. Hy voeg by kinders se immuunstelsel ontwikkel nog en kan die meeste infeksies nie afweer nie. Aanvullings maak hul immuniteit sterker.

Hoewel aanvullings waarde het, is dit nie ’n kortpad na kinders se gesondheid nie, sê Kelly Ansley, ’n dieetkundige van Johannesburg. Gesonde eetgewoontes is van sleutelbelang. “ ’n Goeie manier om te bepaal of jou kind gesond eet, is om na die kleur van sy bord te kyk,” sê sy.

“Volg ’n gesonde eetplan met baie verskeidenheid, en probeer altyd verskillende kleure vrugte en groente kies.” Kelly sê op dié manier kan jy seker wees jou kinders kry al die voedingstowwe in wat hulle nodig het.

Wie kan vitamienaanvullings drink?

Daar is aanvullings vir enigiemand, van babas tot bejaardes. Vra jou apteker watter een reg is vir jou kind. Babas en kleuters wat swaar aan pille sluk, kan koubare pille gebruik wat soos lekkers proe of poeieraanvullings wat met melk of water aangemaak word.

Pasgebore babas kry met bors- of formulemelk die meeste van die voedingstowwe in wat hulle nodig het, maar omdat babas dikwels min son kry, kan ma’s ’n vitamien D-aanvulling oorweeg.

Kenners beveel ook aan dat ma’s wat veganiste of vegetariërs is tydens swangerskap ’n vitamienaanvulling drink, en ook wanneer hulle borsvoed.

Kan aanvullings gevaarlik wees?

Solank ouers by die aanbevole dosis hou, is vitamienaanvullings nie gevaarlik nie, sê Kelly. Sy waarsku sommige vitamiene en minerale kan skadelik wees wanneer kinders te veel daarvan inkry. “Vitamiene A, D, E en K word in die lewer geberg en kan dit vergiftig as dit in oormaat geneem word.” Maar jou kleinding moet omtrent weglê aan die multivitamiene voor dit sal gebeur.

Sy raai ouers wat ysteraanvullings oorweeg aan om eers hul huisdokter of pediater te raadpleeg voor dit vir kinders gegee word omdat te veel yster die lewer kan beskadig.

Hoe kies ek die regte aanvulling?

Kies ’n aanvulling met die woord multi-vitamien daarop, sê kenners; dié produkte bevat ’n omvattende reeks aanvullings. Kies een wat drie of meer vitamiene en minerale bevat.

Vermy dié bestanddele

Pasop vir aanvullings met ’n kruiebasis omdat daar nog min navorsing oor die aktiewe bestanddele daarin gedoen is, sê Kelly. Oor die algemeen reageer kinders se gestel dikwels beter op melksuiker- en glutenvrye aanvullings.

Vermy ook aanvullings met kafeïen, suiker (kies eerder een wat natuurlike versoeters bevat), sout, alkohol en ginseng.

- Mieke Vlok

Volg ons gerus op Facebook en Twitter en kom speld saam op Pinterest.