Die gewilde kykNET-sepie Suidooster, wat in November sy eerste verjaarsdag vier, beloof om kykers in die komende maande nog meer vasgenael te hou met talle spanningsvolle storielyne.

Hier is ’n eksklusiewe kykie wat vir kykers in November, Desember en Januarie wag:

  • Die man wat destyds Mrs. J se man en Lee-Ann en Bridgette se pa, Henry Jacobs, vermoor het word vrygelaat. Die October en Jacobs-familie moet die verlede weer vierkant in die oë kyk. Dis egter nie net hulle wat teen die spoke van die verlede moet baklei nie, maar ook Ian en Chris, wat saam ’n baie donker geheim oor daardie noodlottige aand deel.
  • Rhafiek word gesaboteer by die werk en daar is ’n moontlikheid dat hy ’n aanbod in Durban gaan aanvaar, maar Nicci is nie gelukkig nie. Nicci is in groter moeilikheid as wat Tim, Rhafiek of enige ander familielid besef. Gaan hulle dit betyds agterkom?
  • Mymoena se broer, Ismail, kom maak ’n draai op Ruiterbosch en sy hartstog en talent oorrompel nie net die Samsodiens nie, maar ook iemand heeltemal onverwags.
  • Die Gerbers het uiteindelik hulle eie woning, maar soos dit maar in die lewe gaan, is nie alles altyd rooskleurig nie.