Die meeste werkende ma’s se lot in die lewe is die skuldgevoel waarmee hulle moet saamleef wanneer hulle teruggaan kantoor toe ná hul baba se geboorte. Maar wat as jou werkplek voorsiening maak vir dagsorg en jy gedurende die dag daar kan inloer om te sien dat alles nog seepglad verloop? Hoe begin jy so ’n projek by jou werk?

Vir baie ma’s sal dit die ideale situasie wees as hul babas en jong kinders se dagsorg op dieselfde perseel as hul kantoor is. So weet jy jou kind is goed versorg, jy kan inloer as jy wil seker maak alles gaan nog goed en jy kan selfs aanhou borsvoed ná jou terugkeer werk toe.

By Old Mutual se Greens’cool gaan dit lekker: ouers en kinders kom saam by die werk aan, die kinders gaan dagsorg toe en die ouers stap by hul kantoor in. As iets deur die dag skeefloop, soos as ’n kind siek word, dan is ma of pa byderhand om dit te hanteer.

“Die crèche is gestig om vir werknemers ’n fasiliteit by die werk te skep waar hulle hul voorskoolse kinders tydens werksure kon laat skoolgaan,” sê Old Mutual se fasiliteitsbestuurder Mughtar Parker. “Die besluit is deur die maatskappy ondersteun om meer waarde toe te voeg vir werknemers.”

Parker sê daar is verskeie wetlike prosesse waardeur die skool moes gaan voor hulle die crèche kon oopmaak, maar vir Old Mutual was daar ook ander faktore wat belangrik was: ’n kurrikulum wat tot by gr. R strek en strook met die Wes-Kaapse onderwysdepartement se standaarde, sowel as uitmuntende, gekwalifiseerde onderwysers en ’n groen benadering tot die omgewing. Die dagsorg kan 300 kinders tussen die ouderdom van ses maande en ses jaar versorg. Die skool se kurrikulum strek tot by gr. R.

Parker sê Old Mutual se raad aan ander maatskappye of ouers wat dieselfde inisiatief by hul maatskappy wil voorstel, is om saam met werknemers te werk om te verstaan wat hul behoeftes is.

So hoe gemaak as jy self so iets wil begin, hetsy by jou werk of by die huis?

Daar is verskeie regeringsdepartemente betrokke by die sertifisering van ’n dagsorg of crèche, en as jy so iets aan jou werkgewer wil voorstel, is dit wys om eers meer van hierdie prosesse uit te vind. Miranda van Zyl het ’n dagsorgskool by haar huis in Kenridge, Kaapstad, met 24 kinders en sy sê die sertifiseringsproses het haar ongeveer 16 maande geneem om te finaliseer.

“Dit kan tussen drie en 18 maande neem om jou dagsorg te registreer. As jy na ses of minder kinders kyk, het jy nie nodig om te registreer nie, maar met meer as dit sal jy deur die proses moet gaan,” sê sy.

Sy sê die regeringsdepartemente wat betrokke is, is die departement van gesondheid, die departement van sosiale ontwikkeling en die departement van onderwys (veral as jy beplan om met gr. R te werk, of die voorbereiding daarop).

“Die gesondheidsdepartement doen dan inspeksies – voor en ná jou skool se registrasie – om seker te maak alles is in orde. Ons sien hulle ongeveer twee tot drie keer per jaar. Jy moet ’n plan indien vir ingeval daar ’n brand by die skool ontstaan, sowel as ’n noodplan vir ander noodgevalle. Hulle het veral in die laaste paar jaar baie streng geword hieroor om die veiligheid van die kinders te verseker.”

Die departement van sosiale ontwikkeling sal ook inspeksie doen.

Miranda sê sy het by haar plaaslike munisipaliteit begin met die aansoek. Daar behoort jy vorms te kry en hulle het dikwels kontak met die relevante regeringsdepartemente.

“Ek het nie meer as ses kinders ingeneem voor die registrasie nie afgehandel is nie, net omdat ek hou daarvan om dinge volgens die reëls te doen, so ek sal dit nie vir ander aanbeveel nie. As daar dalk fout is, beteken dit hulle kan jou skooltjie toemaak voor hy regtig oop is.”

Hou dit in gedagte:

As jy beplan om so iets aan jou werkgewer voor te lê, maak seker jy het soveel moontlik inligting aangaande die regulasies en wat benodig sal wees. Indien moontlik, stel ook ’n voorlopige begroting op – hoeveel jy dink werknemers per maand sal betaal, hoeveel geld sal nodig wees om die perseel reg te kry, en waar op die perseel (of elders) die dagsorg geleë sal kan wees.

  • Probeer uitwerk hoeveel kinders die dagsorg sal kan of wil bywoon.
  • Beplan vir watter ouderdomme die skool sal oop wees.
  • Die area waarin die maatskappy geleë is, sal bepaal of dit geskik is vir kinders. Dit kan wees dat die maatskappy ’n ander area sal moet huur wat geskikter is.
  • Regulasies oor die hoeveelheid kinders wat toegelaat word, die hoeveelheid kinders per onderwyser en die sonering van die area waarin die dagsorg geleë is, kan verskil tussen provinsies. Kontak dus jou plaaslike regeringstak vir fynere besonderhede.
  • As jou maatskappy of die dagsorg in ’n woongebied is, moet jy eers toestemming by almal in jou straat en op jou blok kry om ’n skool oop te maak.

Besoek Old Mutual se Greens’cool se webtuiste by omgreenschool.co.za vir nog inligting, of besoek jou plaaslike munisipale kantoor.