Ontmoet Dries Scholtz, die naproduksie-vervaardiger van The Film Factory en die Huisgenoot-fliek, Vir die Voëls.

Ons het by hom gaan aanklop om te hoor hoe sy tipiese dag verloop, wat die uitdagings en lekkertes van sy werk is, en wat Vir die Voëls so 'n aangename projek gemaak het.

1. Wat presies behels jou werk?

As naproduksie-vervaardiger is dit my verantwoordelikheid om 'n fliekrooster op te trek en te sorg dat almal daarby hou. Ek werk nou met afdelings soos redigering, klankontwerp, musiek en visuele effekte.

Die belangrikste deel van my werk is om binne die begroting te bly en ons spertye te haal.

2. Watter eienskappe het jy nodig om dié werk te doen?

'n Goeie kennis van al die verskillende afdelings is uiters belangrik. Jy moet kreatief wees, maar ook goed met administratiewe werk. Goeie tydsbestuur is nodig, jy moet op jou voete kan dink en vinnig 'n plan kan maak. En jy moet met mense kan werk.

3. Hoe het jy besluit om hierdie werk te doen? Wou jy dit nog altyd doen of het dit toevallig gebeur?

Ek het die bedryf leer ken as 'n eenheid- en persoonlike assistent. Oor die jare het ek myself opgewerk tot eenheidsbestuurder, maar het toe gekies om 'n meer kreatiewe rol in die fliekmaakproses te hê.

Met die hulp van kollegas het ek myself geleer redigeer en later op verskeie flieks as assistent-redigeerder en later ook redigeerder gewerk. Daarna het ek ook begin vervaardig. My kennis van naproduksie sowel as produksie het dit maklik gemaak om beheer te hê oor die totale produksievereistes van fliekmaak.

4. Wat is die lekkerste deel van jou werk?

Om te sien hoe die fliek soos 'n legkaart bymekaarkom.

5. Het jy 'n uitstaan-oomblik op stel van die fliek Vir die Voëls?

Beslis die manier hoe die span van die begin tot die einde saamgewerk het. Dis nie altyd maklik met 'n klomp verskillende persoonlikhede nie - wat nog te sê van verskillende kreatiewe persoonlikhede op een stel!

6. Die grootste uitdagings van jou werk in die algemeen?

Om die begroting vir alle afdelings te laat klop. En R10 soos R1 000 te laat lyk.

7. Wat was die grootste uitdaging op Vir die Voëls? 

Vir die naproduksie-afdeling was dit beslis die visuele effekte. Ons het in hierdie fliek dinge gedoen wat ons nog nooit in 'n plaaslike rolprent gedoen het nie.

8. Op watter vorige fliekprojekte het jy gewerk?

Die flieks Vir Altyd, Ballade vir 'n Enkeling, Pad Na Jou Hart, Ek Joke Net (1 en 2), Agent 2000, Bakgat 2 en 3, District 9 en die onlangse Sy Klink Soos Lente en Jou Romeo.

9. Watter raad het jy vir ’n matriekleerder wat hierdie werk moontlik oorweeg? 

Jy het 'n goeie kennis van en liefde vir storievertel nodig. In enige afdeling van 'n fliekspan is die vermoë om 'n storie te vertel uiters belangrik.

10. Voltooi die sin: “Vir die Voëls is vir my . . . “

. . .  'n fliek wat my terugneem in tyd, wat my laat lag én huil.

Hier is die lokprent vir ons Vir die Voëls-fliek: