Klein prins George gaan voortaan nie net met koninklike karretjies en blokkies speel nie; hy sal ook ’n Springbok-gelukbringer in sy wiegie hê.

Die Springbokkaptein, Jean de Villiers, het Saterdag spesiaal vir prins William ’n Bokkie-speelding gegee nadat die Springbokke Wallis met 24-15 geklop het.

Maar wie is Bokkie?

Bokkie is ’n geanimeerde karakter wat in Julie 2010 deur Saru en Sunrise Productions van Kaapstad geskep is. Die gelukbringer is intussen in ’n sagtespeelding omskep en is al op plakkers, magnete, kosblikke, skryfbehoeftes en handdoeke gedruk.

Op Saru se webtuiste word Bokkie beskryf as ’n positiewe, energieke maat; iemand wat jy altyd by jou wil hê.

Bokkie was nog altyd goedhartig, avontuurlustig en gereed om enigiets op die proef te stel. Hy het ongelukkig dikwels in die moeilikheid beland omdat hy nie die liggaamlike vaardighede, behendigheid en vernuf gehad het om al sy struikelblokke te oorkom nie.

[caption id="attachment_58804" align="aligncenter" width="500"]Foto: Tumblr Foto: Tumblr[/caption]

Dit het alles verander toe Bokkie ’n Springboktrui aangetrek het, en nou het hy spesiale vaardighede om alles te doen wat hy wil en nog meer. Hy trek nooit sy Springboktrui uit nie en vermy dit om liggaamlik of geestelik swak te raak. Hy leer nooit iets nuuts aan nie omdat hy reeds alles kan doen. Hy is gedurig besig om mense touwys te maak, hy is ’n sportman en toon altyd respek vir sy teenstanders.

Die Bokkie wat prins George ontvang het, is 15 cm lank. Bokkie is ook as ’n sagte sleutelhouer beskikbaar wat 10 cm in lengte is.

Bokkie-produkte is te koop by uitgesoekte winkel asook die Springbok-ervaring-rugbymuseum.

Marelize Potgieter