Hannah Simpson, ’n 18-jarige meisie van Nieu-Seeland, het dié onverwagte ontdekking gedoen nadat haar ouers sewe jaar gelede geweier het om vir haar ’n duur perd te koop en die plaaswerker ’n blink plan beraam het.

Sy het op ’n melkkoei geklim. En toe sy weer sien, ry sy rond op Lilac, ’n bruin Switserse bees, soos meisies in Amerikaanse rolprente op veeplase maak.
Lees ook: Rare boesemvriende saam al is hul hul huis kwyt oor baba met diere-allergie
“Lilac was toe net ses maande oud en ek was net ’n pikkie. Dit was ’n uitdaging van my broer om op te spring en sy het piekfyn daarmee gelyk – en toe gaan ons aan. Voorheen het ek net twee keer op ’n ponie gery – en ’n skaap,” sê Hannah van die eerste keer dat sy aan die buitewyke van Invercargill, ’n dorp op Nieu-Seeland se Suideiland, op haar geliefde koei geklim het.
Die ervaring was nie so erg soos sy haar voorgestel het dit sou wees nie en sy was verbaas toe Lilac haar nie afgooi nie. “Ek skat dis amper soos ’n perd, behalwe dat sy stadig is en dit ’n effens anders beweging is,” vertel sy. Lees ook: Leeu sien baba in leeukostuum vir ’n welpie aan In die afgelope sewe jaar het Hannah op Lilac se rug ’n daaglikse verskynsel in die kontrei geword. En Lilac het selfs onlangs begin spring – met baie aanmoediging van Hannah. “Sy is ’n koei en ek kan nie verwag sy moet soos ’n perd ry nie.

Sonder ’n bietjie aanmoediging sou sy nie eintlik iets gedoen het nie; sy het ’n baie rustige geaardheid.”

Selfs nadat Hannah se droom bewaarheid is en sy twee jaar gelede ’n perd gekry het, verkies sy steeds om op Lilac te ry. “Sy is meer spesiaal as ’n perd, meer uitsonderlik.”

Bronne: cbc.ca, theguardian.com, mid-day.com