Die meisies se oë blink opgewonde toe die Centurionse troubeplanner Natasha le Roux die spoggerige aandrokke uit die leertas haal.

[caption id="attachment_128970" align="alignnone" width="600"]Die bruid se ma, Irene sr. (links), help die meisies met die aanpas van hul rokke. Foto: Martin de Kock Die bruid se ma, Irene sr. (links), help die meisies met die aanpas van hul rokke. Foto: Martin de Kock[/caption]

“Jis, dis mooi!” sê Ursula Breedt toe Natasha haar ’n skarlakenrooi rok gee om aan te pas. “Dis nice, Tannie!” roep die 18-jarige Irene van Niekerk stralend uit. Ursula gaan ’n strooimeisie wees wanneer Irene in Augustus saam met Iwan Cass voor die kansel staan.

Drie jaar gelede is Irene van Krugersdorp die wonderkind van skoleatletiek genoem. Dit het gelyk of dié meisie, wat saam met haar behoeftige ouers in ’n wit plakkerskamp hier aan die Wes-Rand gewoon het, met haar natuurlike talent op die atletiekbaan nog bo haar omstandighede sou uitstyg.

In 2013 het sy onder meer die skare by die Ruimsig-atletiekbaan in Roodepoort op hul voete gehad toe sy die 1 500 m in 4:45 kafgedraf en daarmee in haar ouderdomsgroep ’n Gautengse rekord opgestel het.

Wat dié prestasie nog merkwaardiger maak, is dat daardie blitsvinnige voete amper geamputeer is toe sy 18 maande oud was en sy hulle in kokende badwater gebrand het. Ná die ongeluk het sy byna al haar tone verloor.

[caption id="attachment_128971" align="alignnone" width="600"]Die bruidsmeisies is stralend van opgewondenheid na hulle hul rokke aan het. Van links is Nicky van Niekerk, Tracy Heys, Veruschka Vorster, Karen Vorster en Ursula Breedt. Die toekomstige bruid, Irene van Niekerk (in die middel met sweetpak) vertel sy kan nie wag vir die groot dag nie. Foto: Martin de Kock Die bruidsmeisies is stralend van opgewondenheid na hulle hul rokke aan het. Van links is Nicky van Niekerk, Tracy Heys, Veruschka Vorster, Karen Vorster en Ursula Breedt. Die toekomstige bruid, Irene van Niekerk (in die middel met sweetpak) vertel sy kan nie wag vir die groot dag nie. Foto: Martin de Kock[/caption]

Irene was 15 jaar oud toe sy swanger raak. Haar atletiekloopbaan het tot ’n einde gekom. En 11 maande ná die geboorte van haar baba, het die Mogale City-munisipaliteit haar, haar familie en sowat 130 plakkers verskuif na die Munsieville-township buite die dorp, waar hulle nou woon.

In Maart het Huisgenoot berig oor Irene en Iwan se beplande troue. Toe het haar ma, Irene sr., gesê dit moet ’n mooi troue wees. “Want dit is die mooiste dag in ’n vrou se lewe. ’n Vrou dink altyd terug aan haar troudag. Kyk, ek kan nou nie duisende betaal nie, maar ek wil ook nie sleg gee nie.”

Lees ook: Irene van Niekerk hardloop (amper) weer…

Huisgenoot se lesers het ook gemeen dit moet haar mooiste dag wees en weldoeners het begin hulp aanbied. Die Moeggesukkel-sentrum gaan onder meer ’n wittebrood help reël en Natasha het haar dienste as troubeplanner aangebied. Vandag het sy die strooimeisies se rokke gebring om aangepas te word.

Dit is bitter koud hier in Munsieville. Buite loei die ysige wind om die hoeke van Irene se ouers se hout-en-sinkhuis. Natasha help elkeen van die vyf meisies om hul rok aan te trek. Hul kaal skouers is vol hoendervleis en hulle bibber, maar nou voel hulle nie die koue nie; daarvoor is hulle heeltemal te opgewonde.

[caption id="attachment_128972" align="alignnone" width="600"]‘n Soentjie vir liefde! Wanika en Jayden is deel van Irene se gevolg en gaan die klein bruidjie en bruidegom wees. Foto: Martin de Kock ‘n Soentjie vir liefde! Wanika en Jayden is deel van Irene se gevolg en gaan die klein bruidjie en bruidegom wees. Foto: Martin de Kock[/caption]

“Dis nice,” sê Irene kort-kort. Haar en Iwan se tweejarige seun, Jayden, pas sy wit kerkpakkie aan. Hy lig sy duim na die Huisgenoot-fotograaf. “Shap,” sê hy dan.

Dit gaan ’n boere-fairy tale wees, vertel Irene sr. so tussen die aanpas deur. Sy wil die gaste op ’n spitbraai met pap en sous trakteer, maar spaar nog daarvoor. “Die saal in Krugersdorp het ek gister gaan betaal, ’n volle R1 800.”

As sy nou net nog ’n DJ en ’n paar dekorgoedjies vir die saal kan kry . . . sê sy dan.