Die Material Girl-sangeres het Dinsdag wettige goedkeuring in die Afrika-land se hooggeregshof in die hoofstad Lilongwe verkry om die vierjarige susters, wat luidens berigte Esther en Stella heet, aan te neem.

En die 58-jarige ma is in die wolke oor die nuwe toevoegings tot haar gesin.

A photo posted by Madonna (@madonna) on

“Ek kan amptelik bevestig ek het die proses van aanneming van tweelingsusters uit Malawi voltooi en is verheug dat hulle nou deel is van ons gesin,” het sy Woensdag geskryf by ’n foto op Instagram van waar sy hand aan hand met die skattige meisietjies in ’n veld stap.

“Ek is innig dankbaar aan al die mense in Malawi wat dit help moontlik maak het en ek vra die media om asseblief ons privaatheid in hierdie oorgangstyd te respekteer. Dankie ook aan my vriende, familie en my baie groot span vir al jul steun en liefde!”

Klein Esther en Stella is die derde en vierde kind wat Madonna uit Malawi aanneem. Sy het haar seun, David (11), in 2006 uit ’n weeshuis daar aangeneem, en haar dogter, Mercy James (11), in 2009.

Die popsuperster het ook twee biologiese kinders – haar dogter, Lourdes (20), by die Kubaanse akteur Carlos Leon en seun, Rocco (16), by haar eksman, Guy Ritchie.

A photo posted by Madonna (@madonna) on

Al staan dit Madonna nou vry om Esther en Stella saam met haar na haar huis in Amerika te neem, sal sy luidens berigte ’n jaar lank onder waarneming van hofbeamptes wees voor die aanneming volledig afgehandel is. Sy moet ook nog ’n verslag by owerhede in Malawi inhandig.

Die popikoon het ’n spesiale band met Malawi. Sedert 2006 het sy al ’n aantal opvoedkundige en gesondheidsprogramme in die land deur haar liefdadigheidsorganisasie Raising Malawi gefinansier.

©Cover Media