André en Henri het mekaar Dinsdagmiddag vlugtig in die portaal van die hooggeregshof in die Kaap gesien en vinnig gesels.

Henri het opmerklik bly gelyk om sy oom te sien, en toe hulle mekaar groet om totsiens te sê, het Henri sy arm om sy oom se rug gesit en weer gedruk.

Geen ander familie is in die hof opgemerk nie.

Die saak waarin Henri van Breda daarvan beskuldig word dat hy sy pa, Martin (54), ma, Teresa (55), en ouboet, Rudi (22), met ’n byl vermoor het, is Dinsdag in die hooggeregshof hervat.

De Zalze-bylmoorde regstreeks uit die hof: Getuienis skep grusame prentjie

Die Van Breda’s se lyke is die oggend van 27 Januarie 2015 omstreeks seweuur op die luukse landgoed De Zalze buite Stellenbosch aangetref. Henri se jonger suster, Marli, het die aanval met ernstige kopwonde oorleef. Henri het homself aan die polisie oorgegee op 13 Junie 2016.

Onder kruisondervraging deur sers. Adrian Kleynhans het dit onder meer aan die lig gekom sedert 2002 is altesaam 191 misdrywe op De Zalze by die polisie aangemeld, waarvan 24 inbrake was.

Adrian het soos in sy vorige getuienis die punt gemaak dat Henri na sterk drank geruik het, maar volgens Henri se regsverteenwoordiger, adv. Pieter Botha, is geen dwelms of alkohol in sy bloed gevind nie.

Die sekuriteitsbeampte Lorenzo Afrika, wat vir die staat getuig, het gesê hy het die dag van die moorde die elektriese heining om die landgoed nagegaan om seker te maak dit werk.

Hy het daardie nag vyf keer op die landgoed patrollie gedoen en niks buitengewoons opgemerk nie. Hy het ook niemand op die landgoed sien rondloop nie.