Deur Loren Pienaar

Swangerskap . . . Naarheid, moegheid, die lus vir ’n verskeidenheid kosse – van roomys en vleis tot pastas en grondboontjiebotter. ’n Mens hoor altyd van die moeilike dinge wat met swangerskap gepaard gaan, maar dis ook ’n ongelooflike tyd waarin die meeste mense soveel moontlik voorbereidings tref vir die pienkvoet se koms.

Een van die belangrikste goed waaraan ’n mens gewoonlik begin werk, is die babakamer.

“Dis ’n dogtertjie en ons gaan haar Eli-zé noem,” vertel Elizma. Sy weet ook reeds hoe die babakamer gaan lyk. “Die gordyne is klaar gemaak en die beddegoed het ons in Durban laat maak,” vertel sy.

Hoekom dink jy is ’n babakamer belangrik?

“Dit is vir enige mamma belangrik. Terwyl jy wag, is jy so opgewonde oor die koms van jou baba – en die voorbereidings help om die tyd verby te kry. Sonder dat die kleintjie weet, maak jy die babakamer mooi sodat sy of hy weet dat hulle welkom is en dat jy lief is vir hulle. Al die moeite en geld wat jy insit, wys hulle daar is ’n plekkie vir hom of haar in jou hart en jou huis. Dis om die kleintjie te laat welkom voel. Dit help jou ook sielkundig voorberei vir die koms van jou baba; jy wag vir die lyfie wat jy in die kot gaan sit.”

[caption id="attachment_56916" align="aligncenter" width="300"]Foto: Pinterest Foto: Pinterest[/caption]

Wat was jou inspirasie vir jou babakamer?

“Ek het geweet ek wil dit baie eenvoudig en skoon hou, met skoon lyne. Ek het besluit op wit, grys en ’n klein bietjie babapienk. Ek hou nie van besige patrone, soos polkakolle en ’n sigsagpatroon, nie.

“Dit was ook vir my belangrik om prakties te wees. Ek het ingeboude kaste om ruimte te bespaar en natuurlik is daar ’n plek waar jy die baba se doeke kan omruil.

“Wat baie spesiaal is, is die soliedehoutkot. Dit is die mooiste! Nico het daarin geslaap, so dit het sentimentele waarde. Sy gaan slaap in dieselfde kot as waarin haar pappa geslaap het. Daar is ook ’n gemaklike wiegstoel vir mamma om in te sit.”

Wat is jou raad aan mammas wat ook nou babakamers voorberei?

“Wanneer jy dalk ’n tydjie het, gaan op Pinterest of Google Images en soek prentjies waarvan jy hou. Ek het ure en ure op die web rondgekyk. Jy moet seker maak jy weet wat jy wil hê, want teen die tyd wat die baba kom, moet die babakamer reeds klaar wees en dan kan jy nie twyfel oor of jy regtig daarvan hou of nie. Doen jou navorsing!”