Volgens die Medic Alert-stigting vind ’n kosallergie plaas wanneer die liggaam ’n spesifieke en reproduseerbare immuunreaksie teen sekere kossoorte toon. Die reaksie kan ernstig en lewensgevaarlik wees. Al beskerm die immuunstelsel die liggaam gewoonlik teen kieme, val dit in mense met kosallergieë verkeerdelik die kos aan.

Kenners van die stigting sê daar is agt kosse of kossoorte wat 90 persent van alle ernstige allergiese reaksies veroorsaak: melk, eiers, vis, skulpdiere, koring, soja, grondbone en neute.

Wanneer jou kind een van die volgende sê, moet jy daarop ag slaan:

  • Dit voel asof iets my tong steek.
  • My tong (of mond) tintel (of brand).
  • My tong (of mond) jeuk.
  • Dit voel asof daar hare op my tong is.
  • My mond voel snaaks.
  • Daar is ’n padda in my keel.
  • Daar sit iets in my keel vas.
  • My tong voel dik (of swaar).
  • My lippe voel stram.
  • Dit voel of daar goggas daarbinne rondkruip (die ore jeuk).
  • My keel voel dik.
  • Dit voel asof daar ’n knop agter op my tong (die keel) is.

Kan reaksies met tyd verander?

Die simptome en graad van allergiese reaksies kan van mens tot mens wissel, en dit kan ook met tyd by iemand verander. Anafilakse is die skielike en ernstige allergiese reaksie wat noodlottig kan wees. Nie alle allergiese reaksies gaan tot anafilakse lei nie.

Is daar ’n verband tussen asma en kosallergieë?

Kinders met kosallergieë is geneigder tot asma of ander allergietoestande as dié sonder kosallergieë.

Is daar ’n geneesmiddel?

Daar is nie ’n kuur teen kosallergieë nie. Al oplossing is om die allergeen streng te vermy. Vroeë en vinnige herkenning en behandeling van allergiese reaksies wat tot anafilakse lei, kan ernstige gesondheidsprobleme of die dood voorkom.

Hier’s hulp

Medic Alert-armbande is aanlyn beskikbaar. Besoek medicalert.co.za, bel 021-425-7328 of e-pos info@medicalert.co.za vir nog inligting.

- Medic Alert-stigting van Suid-Afrika