Carin  smuts

Sy teken nie net ’n prentjie van ’n gebou wat mooi lyk nie; sy luister na die mense, neem hul kultuur in ag en ontwerp dan ’n gebou wat so veel moontlik geleenthede vir hulle skep. Dit is die beginsel waarop die argitek Carin Smuts haar passie en roeping uitleef en haar beywer om mense in arm gemeenskappe se lewe op te hef. Sy slaag selfs daarin om mense self te laat inspring en te help bou aan projekte. Juis daarom het sy in 2008 die Wêreldvolhoubaarheidsprys ontvang, haar werk al meermale in oorsese glanstydskrifte gepryk en word sy gereeld genooi word om lesings by oorsese universiteite te doen.

“As jy mense maatskaplik wil ontwikkel, moet jy ook vir hulle ’n intellektuele kopskuif gee. Daarsonder gaan jy niks regkry nie.”

Carin (53) gesels met ons in haar kantoor in Ocean Viewrylaan in Seepunt. Op pad soontoe hoef jy nie te hard na CS Studio te soek nie, want die ontwerp van die gebou is duidelik dié van ’n argitek. Dit is op verskillende vlakke en in kleure en die mure is uit verskillende materiale gebou, soos gegolfde sinkplaat en stene.

Sy vertel geesdriftig van die projekte wat hulle al aangepak het en wat nou nog ’n waardevolle bydrae tot die gemeenskap lewer. “Ons model staan op drie bene. Dit moet sosiale, ekonomiese en omgewingsontwikkeling bevorder, want sonder daardie drie elemente, kan jy nie ’n volhoubare omgewing ontwikkel nie.”

Carin  smuts

HAAR liefde vir gemeenskapsontwikkeling het in haar studentejare in die vroeë 80’s begin toe ene Wilson Soci van Cradock die Universiteit van Kaapstad genader het om ’n gemeenskapsentrum op te rig in Ligelihle, ’n informele nedersetting buite Cradock. Carin het ingestem om daar te gaan werk en daar het sy saam mense soos die vryheidsvegter Matthew Goniwe gewerk. Hy het later bekend geraak as een van die Cradock Vier.

“Ek het baie lesse by hulle geleer; goed soos hoe om met straatkomitees en jeugorganisasies te werk. Hulle was mense wat regtig iets met hulle gemeenskap wou doen.”

Ná haar studies het sy vyf jaar by die argiteksfirma Prinsloo Parker, Elliott en Van den Heever gewerk en toe het sy en ’n kollega, Urs Schmid, besluit om CS Studio te begin sodat hulle meer op ontwikkeling kon konsentreer.

Hulle model is geskoei op gemeenskapsbetrokkenheid en voor ’n projek aangepak word, sal hulle ’n werkwinkel met die mense van die gemeenskap hou om te bepaal wat hul behoeftes is.

“Ons begin deur te vra hulle moet iets teken. Ons noem dit die helikopter-oefening en sê hulle moet hulle verbeel hulle vlieg oor die plek en sien wat hulle graag wil hê oor 10 jaar daar moet wees. Dit raak baie interessant en hulle kom met ongelooflike goed vorendag.”

Carin en haar span gebruik die prente en maak sketse van die idees wat uit die werksessie kom. Hulle stel ’n sakeplan en kosteberekening saam en gee dit vir die organisasie sodat hulle geld kan insamel.

’n Deel van die proses is om ekonomiese groei in die gemeenskap aan te spoor en soveel moontlik inwoners word by die bouery te betrek.

Carin  smuts

Met die gemeenskapsentrum Gugu Sthebe wat hulle in Langa gebou het, het hulle byvoorbeeld inwoners opgelei om mosaïekwerk aan die sentrum se mure te doen. Die mense doen steeds mosaïekwerk om ’n inkomste te verdien, en Gugu Sthebe dien as ’n plek waar mense hulle kuns verkoop en dienste verleen.

Carin  smuts

“As jy mense maatskaplik wil ontwikkel, moet jy hulle ’n intellektuele kopskuif gee. Daarsonder gaan jy niks regkry nie.”

Deur Marelize Potgieter

Foto’s Corrie Hansen