luxy-1>center>

Die app LUXY, wat soortgelyk is aan Tinder, verseker dat ryk en aantreklike enkellopendes se paaie kruis, en skakel al die armsalige en onaantreklike mense uit, berig die Daily Mail.

Op LUXY verdien die deursnee-man meer as R2 miljoen per jaar en dié wat nie finansieel kan byhou nie, word onmiddellik van die app verwyder.

Die misterieuse hoof van die app, wat net as Tim T. bekend staan, sê in ’n digitale wêreld wat by die dag ál groter word, is dit hoog tyd dat iemand ’n filter daarstel wat mindergegoede enkellopendes uitskakel op grond van waar hulle woon.

Hy sê almal wil eintlik graag met ’n aantreklike en ryk persoon uitgaan, en sy app bring die regte mense bymekaar.

Die maatskappy werk tans aan talle metodes om die app te beskerm teen mense wat minder as R180 000 per maand verdien.

Hoewel LUXY nog net 3 000 lede het, groei dit vinnig en lede word aangemoedig om al hul welgestelde vriende te nooi om aan te sluit.

Van die lede sluit in hoof uitvoerende beamptes, beroepsportlui, medici, prokureurs, beleggers, entrepreneurs, skoonheidskoninginne, fiksheidsmodelle en selfs Hollywood-akteurs.

Lede meld op LUXY aan deur hul Facebook-rekening, soos met Tinder. Die app ontleed dan gemeenskaplike vriende, en bepaal eers of jy in dieselfde sosiale kringe beweeg as ander.

As jy goedgekeur word, kies jy ’n paar stokperdjies wat onder meer perdry, muurbal, gholf, seiljagte of kuiers in gewilde restaurante insluit.

Iets so eenvoudig soos fietsry, bergklim en draf is buite die kwessie.

Daarna moet lede hul gunsteling-handelsmerke opnoem. Dis belangrik om luukse belangstellings te hê, soos Louis Vuitton, Mercedes, Gucci, Bentley en Cartier.

Lede wat van McDonalds en KFC hou en wat met ’n Volla ry, is onwelkom op LUXY.

Lede wat wel goedgekeur word, is byvoorbeeld ’n man wat aan die Princeton-universiteit studeer het, wat hou van Rolex-horlosies, gesogte, klassieke motorfietse versamel en meer as R36 miljoen per jaar verdien.

Die wat gereeld op LUXY is, word aangemoedig om grepe uit hul weeldelewe te deel om te bewys dat hulle nie mindergegoede gebruikers is nie.

En wat van die wat dit nie naastenby kan bekostig om op LUXY te kuier nie?

Die maatskappy stel Tinder of Match.com voor.

Bron: dailymail.co.uk