Haar lewe was nooit heeltemal goddeloos nie, sê die stylvolle blonde vrou met die rooi jas en ewe rooi lippe onverwags. “Maar dit het baie naby daaraan gekom.”

Jy wil amper jou oë in ongeloof rol wanneer Gretha Wiid (37) dié ontboeseming maak. Die woorde “geloof”, “liefde”, “grace” en “faith” hang dan soos skilderye teen die muur van haar oopplanhuis in Pretoria. Daar’s ’n groot kruis op die koffietafel en haar man, Francois, het pas sy Bybel gaan haal om ’n vers na te slaan.

Die Wiids se vier dogters, Giano (11), Tiónne (8), Ghitte (3) en Fabiénne (1), kom groet ordentlik en gaan speel dan giggelend elders in die huis. Mamma het belowe sy sal hulle nou-nou parkie toe neem, maar eerste kom sake van die Woord.

En dit is dié modieuse Pretoriase motiveringspreker wat nou die simbool geword het van vroue se stryd om hul plek te verstaan in die era van Angus Buchan. Hy is die prediker van KwaZulu-Natal wat honderdduisende mans by sy Mighty Men-saamtrekke aanmoedig om die koning van hul huis te word.

Retha bied nou aanstaande maand haar eerste Worthy Women Conference (WWC) in die NG kerk hier in More-letapark aan.

Haar doel? Om duisende vroue te bemagtig om weer gemaklik te voel met God se doel vir hulle. Daar’s plek vir 7 000 mense en sy bid dat die kerk vol sal wees.

En dit lyk asof vroue honger is, te oordeel na die stapels dankbare boodskappe wat sy daagliks ontvang en die kaartjies wat soos soetkoek vir haar WWC verkoop.

Gretha se blou oë sprankel. Sewe of agt jaar gelede sou sy nooit kon dink sy sou ander vroue eendag inspireer nie. Haar man was dan ontrou, hulle was bankrot, daar was pornografie in sy kluis, sy het angsaanvalle gekry en haar huwelik het amper in die skeihof gaan draai.

DIE voormalige Engels-onderwyser het haar onderwysloopbaan 13 jaar gelede laat vaar toe sy met Francois getroud is. Sy het ’n diploma in gesins- en geslagsontwikkeling verwerf en toe voorligtingskursusse vir skoolkinders begin aanbied.