Die aardbewing van 5,5 op die Richter-skaal wat die Noordwes vroeër vandeesmaand getref het, kan dalk deels toegeskryf word aan mynaktiwiteit in die gebied, het ’n dosent aan die Universiteit van Pretoria Maandag gesê.

“Wat dalk kan gebeur, ná genoeg mynaktiwiteite, is druk. Ons plaas ál meer druk en propageer ál dieper,” het prof. Andrezj Kijko gesê; hy is die direkteur van die universiteit se sentrum vir natuurrampe.

“Ons plaas druk op ’n plek wat klaar onder druk verkeer, die tektoniese komponente; ons veroorsaak dan ’n aardbewing.

“Ons praat hier van aardbewings aanjaag net met mynaktiwiteite,” het hy gesê.

’n 31-jarige man is in ’n myndorpie naby Orkney dood toe die aardbewing die gebied tref.

Minstens 34 mynwerkers is beseer en meer as 600 huise is beskadig.

- Sapa