Hy onthou die dag soos gister toe Nelson Mandela voor ’n volgepakte Ellispark-stadion vooroor leun en iets in sy oor fluister.

“Ek is trots op jou. Gaan maak die res van Suid-Afrika ook trots,” het Suid-Afrika se indertydse president gefluister aan Chester Williams, die Springbokke se stervleuel.

Dit was Saterdag 24 Junie 1995, die dag van die Wêreldbekertoernooi se eindstryd. Hy het geluister na Madiba en die Springbokke rugbygeskiedenis help maak toe hulle ná jare van afsondering die Wêreldbekertoernooi op eie bodem wen.

Chester, toe in sy vroeë 20’s, was ál swart speler in die span en is hul “Swart Pêrel” genoem.

“Ek het eers baie later besef watter groot taak daar op my skouers gerus het,” sê hy uit Roemenië, waar hy nou ’n klub afrig.

Madiba se dood verlede Donerdag het weer die herinneringe by hom laat opwel oor die hegte band wat hulle met die jare gesmee het.

“Ek dink toe ons Invictus begin verfilm, het ek eers besef wat alles agter die skerms gebeur het,” sê Chester van die Hollywood-fliek oor hoe Mandela en die Bokkaptein Francois Pienaar 1995 se Wêreldbeker-toernooi gebruik het om die Suid-Afrikaanse nasie hegter saam te snoer.

Toe Madiba Chester voor daardie geskiedkundige wedstryd aanmoedig om Suid-Afrika trots te maak, het hy nog nie besef watter belangrike rol hy self sou speel om Suid-Afrika as ’n nasie te help verenig nie.

Maar dit bly sy mooiste herinnering aan ’n merkwaardige vriendskap.

Hy het Madiba die vorige jaar die eerste keer ontmoet. “Dit was ná ons toer in Nieu-Seeland. Ek was by my huis in die Paarl toe ek ’n oproep kry van Zelda la Grange, sy persoonlike assistent. Sy het my genooi om saam met Madiba in Tuynhuys te kom eet. Ek het gedink sy maak ’n grap.”

Dit was die begin van ’n besonderse verhouding tussen Madiba en die jong ster.

“Madiba het nooit reguit gepraat oor waarom hy my na sy huis genooi het nie, maar as ek nou terugkyk, weet ek hy was bewus van die rol wat ek as ’n lid van die Wêreldbekerspan kon speel.

“Hy het my gelukgewens met my plek in die Springbokspan, ook omdat ek daarin kon slaag om deel daarvan te bly, want dit was beslis nie maklik nie.

“Ons het baie oor sy lewe en loopbaan gesels. Hy het my van sy tyd op Robbeneiland vertel.”

Tussen die lamstjops deur het Madiba ook ’n paar lewenslesse met Chester gedeel. “Hy het gesê dit is belangrik om altyd jouself te wees en dat jy nooit jou persoonlikheid moet verander nie. So nie sal jy nooit gelukkig wees nie.

“Dit was regtig ’n eer om langs hom op ’n bank in Tuynhuys se sitkamer te sit en met hom te gesels. Daarna was ek baie meer gemotiveer om in die span te bly en ek het geweet ek het ’n verantwoordelikheid teenoor die land en my mense om suksesvol in rugby te wees.”

Madiba het daarna by die Springbokke betrokke gebly. Hy het eenmaal ’n oefening bygewoon, maar eers toe hy voor daardie belangrike wedstryd met die nr. 6-Springboktrui op die veld stap, het alle Suid-Afrikaners geweet hy staan bankvas agter die Springbokke.

Chester onthou nog hoe die skare mal van opwinding geraak het toe Madiba op die veld verskyn.

Hy het die Springbokke kort tevore in die kleedkamer gaan sterkte toegewens. Chester onthou sy woorde goed: “Ek en die hele Suid-Afrika staan agter julle. Ons glo in julle en weet julle kan die wedstryd wen.

“Ek en van die ander ouens het ná die tyd vir mekaar gesê selfs al het hy net by die kleedkamer ingestap en niks gesê nie, sou dit ons moed gegee het om te wen. Ons was so gemotiveer en energiek.”

Die Bokke het die wedstryd teen die All Blacks met verlengde tyd gewen toe Joel Stransky se skepskop slaag. Die telling was 15-12.

“Dit is iets wat ek die res van my lewe met my sal saamdra en dit sal in die geskiedenisboeke opgeneem word. Dit was die eerste Wêreldbeker waarby Suid-Afrika betrokke was: Ons was die gasheerland, ons het gewen en dit het Suid-Afrika as ’n nasie bymekaargebring.

“Almal was so gelukkig; wit, swart, almal.

“Daardie dag het ons almal legendes geword en ná die wedstryd het dit soveel beter gegaan in die land.”

Madiba het die Bokke se “Swart Pêrel” nie vergeet nie en hom in 2005 saam met sy vrou, Maria, hul seun Ryan en die tweeling, Matthew en Chloe, na sy huis in Houghton genooi. Francois en die sokkerspeler Lucas Radebe was ook daar.

“Die tweeling was nog baie jonk,” sê Chester, “maar Ryan het baie lekker met hom gesels en ons het mooi foto’s geneem.”

Maria vertel toe sy sy huis binnestap, het dit vir haar gevoel asof sy by ’n kerk inloop. “Dit was beslis die hoogtepunt van my lewe. Hy is so nederig en wanneer jy hom ontmoet, weet jy dit is die wonderlikste mens ter wêreld.

“En hy het soveel empatie met kinders gehad.”

Madiba was ’n “baie sjarmante man”, sê sy. “Ek is baie verras dat hy nie agt vroue gehad het nie,” voeg hy by en lag.

Die kinders onthou ook nog die kuier, vertel Chester. “Ons praat gereeld oor Madiba en watter belangrik rol hy in die land gespeel het. Die tweeling het al selfs ’n mondeling oor hom gedoen en van die foto’s skool toe geneem. Hul maats kon nie glo hoe hulle aan sy skouers gehang het nie.”

Ná die uitreiking van die fliek Invictus het Chester baie navrae van wêreldmedia gekry. “Europese, Franse, Italiaanse en Amerikaanse media het my gekontak. Hulle wou weet wat my ervaring voor, gedurende en ná die Wêreldbekertoernooi was.

“Ek was eerlik daaroor. Ek het vertel hoe ons in die apartheidsjare afsonderlike busse en treine moes gebruik en nooit toegelaat is om ná wedstryde onthale by te woon nie.”

Dit alles het ná 1995 drasties verander en hy het later baie goed met sy spanlede bevriend geraak. “Ons het lekker saamgekuier en as iemand iets rassisties te sê gehad het, sou my spanmaats vir my opkom.”

Die legendariese Wêreldbekertoernooi was ’n keerpunt, sê Chester. “Daar is ruimte vir groei, maar Suid-Afrika is ’n beter land.”

Hy dink nie Suid-Afrika sal agteruitgaan noudat Mandela nie meer daar is nie. “Ek dink die land sal baie lank treur; dis die man wat Suid-Afrika gemaak het wat dit is. Maar ons moet onthou dat hy al lank nie meer president was nie en dat ons baie ander sterk leiers het.”

Maria meen Chester het sy verhouding met Madiba die beste saamgevat in ’n boodskap aan hom toe die Kaapse stadsraad die handafdrukke van bekendes ingesamel het. Dit is later opgeveil ten bate van die Nelson Mandela-stigting.

Chester het toe geskryf: “Vir die wêreld is jy Madiba, maar vir my is jy die wêreld.”

Deur Marelize Potgieter