In Augustus 2012 het ek en vyf ander vroue besluit om die Camino de Santiago, oftewel die pelgrimstog vanaf Saint-Jean-Pied-de-Port in Frankryk tot by die katedraal in Santiago in Spanje, te voet aan te pak. Die doel van die tog sou wees om mense bewus te maak van die impak en verrykende gevolge van mensehandel, asook om geld in te samel vir A21, ’n welsynsorganisasie wat mensehandel wil help beperk en slagoffers ’n veilige heenkome bied op hul pad na herstel.

The Way of St. James is die een van die grootste Christelike pelgrimstogte ter wêreld, naas Rome en Jerusalem, en strek oor 800 km vanaf Saint-Jean-Pied-de-Port in Frankryk tot by Santiago in die Noorde van Spanje. Pelgrims stap al sedert die 9de eeu dié roete en word uitgeken aan ’n mantelskulp op hul rugsak of klere. Elke pelgrim dra ’n paspoort wat gestempel word op die dorpe langs die roete om te bewys dat hul wel die minimum verwagte 100 km afgelê het. Pelgrims bepaal hulle eie pas en roete maar word saamgesnoer met die doel om Santiago in een stuk te bereik.

Ná ’n jaar se beplanning en vele geldinsamelings het ek, Danel Jansen van Rensburg, Debbie Copping, Marne Reynecke, Melanie van Rooyen en Moreen Barnard vertrek uit Engeland na Burgos, Spanje. Ons plan was om 550 km af te lê binne vier weke. Van Burgos tot Astorga is ons begroet deur plate sonneblomme, landerye en kilometers plat aarde sonder skadu en een of twee verdwaalde dog steil koppies. Met elke tree nader in die rigting van Astorga het ons bewus geword van die berge op die horison.

145051

Die volgende 270 km was ’n kombinasie van steil opdraandes, skerp afdraandes, blase, seer spiere, asemrowende landskappe, welkome rusplekke, soet waterfonteine en ongenadige bergpaaie. Hoewel ons ervaringe te veel is om neer te pen, is daar is egter oomblikke met die terugblik wat verewig geëts sou wees in ons geheue. ’n Sonsopkoms buite Manjarin aan die voet van ’n kruis, die oase en Somerfees in Molinaseca en die kanariegeel huis langs die bergstroom in Villa Fance Del Bierzo. Daarnaas die 1000 m klim na Osebreiro, die pelgrimsmis bo-op die berg, die sonsondergang oor die klooster in Samos en vele pelgrimsetes en sangria. Volgende aan die beurt was die imposante bergvesting van Portamarien en die onverwagte steak en sonstoele vir ons moeë lyf in Salsieda. In Monte de Goze, 4 km buite Santiago, was ons op die vooraand van die einde van ons roete in die geselskap van 350 ander pelgrims.

Die koue het kom nesmaak in my spiere, gehawende voete. Met afwagting in my hart het ek getob oor die hoeveelheid emosie wat met dié tog gepaardgegaan het. Vanaf pyn, paniek, teleurstelling en vrees tot opwinding, blydskap en oorwinning en dit alles soms voor ontbyt. Ek het gedink aan die vele ou lewenslesse waaraan ek myself moes herinner en die nuwes wat ek moes leer:

  1. Moet nooit vir ’n plaaslike Spanjaard vra hoe ver jy nog moet loop en of die pad plat is nie – hulle bly in die berge, alles is plat en omtrent ’n kwartier se loop.
  2. Elkeen van ons het ongelooflike innerlike krag, maar soms verg dit meer krag om te sê: Ek kan nie verder nie, as om aan te gaan.
  3. Wees dankbaar vir elke seëning wat oor jou pad kom – van iemand wat vir jou water skink uit ’n tuinslang tot ’n bos groot genoeg vir stilte en vrede.
  4. Selfs 550 km word net een treë op ’n slag geloop.
  5. ’n Gidsboek word met ’n rede so genoem; jy moet jou eie waarheid soek.
  6. Die belangrikste waarheid: As ek glo, sal die Here voorsien.

322

Met sonsopkoms het ons Santiago binnegestap (gehinkepink) as oorwinnaars. Die katedraal was asemrowend en dit het soos ’n tuiskoms gevoel. Ons het by die registrasiekantoor aangemeld en nadat ons paspoorte bestudeer is, het ons elkeen ons Compostella ontvang. Nie een van my grade of pryse het soveel gewig gedra op daardie oomblik soos die stuk papier waarop ek skaars my eie naam kon herken nie. Tydens die pelgrimsmis in die katedraal, asof in antwoord op die stem van elke slagoffer van mensehandel vir wie ons die tog afgelê het, is die “botafameiro” gebruik, die silwersierpot gevul met 40 kg steenkool en wierook wat bo-oor die pelgrims geswaai word tot byna teen die dak. My siel het vlerke gekry op daardie oomblik en ek het besef dat hoewel ons die tog vir ander begin het, dit my en elkeen van ons vir altyd sou verander.

Daar is vandag die meeste mense in slawerny tot nog toe. Wat gaan jy daaraan doen?

Sou jy belangstel om meer te weet kan jy die Facebook-blad besoek as ’n eerste stap. Baie dankie vir almal wat ons ondersteun het.