Ek kan nie onthou dat ek gesê het wanneer ek groot is, “wil ek n dwelmverslaafde wees en ek wil vier verskillende rehabilitasiesentrums besoek voor ek 25 jaar oud is nie”.

Om ’n dwelmverslaafde te word was werklik nie deel van my plan nie, tog het cat en alkohol in die pad van my drome kom staan. Ek het op omtrent 13 begin rook en drink. Ek weet nie of ek as ’n verslaafde gebore is nie, maar die eerste keer dat ek dwelms gebruik het, is ’n verslaafde gebore. Wat as naweekpret begin het, het in ’n leefwyse verander.

Om cat te gebruik het die belangrikste ding in my lewe geword, belangriker as my vrou en kinders. Ek het gejok, gemanipuleer en gesteel wanneer ek moes om my verslawing te onderhou. Dit het my in iemand verander wat ek elke oomblik van my lewe gehaat het.

Ek het elke dag cat gebruik om te funksioneer en nooit gaan slaap as ek nie vir die volgende dag cat gehad het nie. Ek kon nie my dogters soggens by die kleuterskool aflaai as ek nie ’n lyn cat gehad het voor ek hulle kar toe geroep het om te ry nie. Ek sou cat gebruik voor ek kliënte gaan spreek omdat dit my die selfvertroue gegee het wat ek nooit as ’n jong man gehad het nie. Dit het my die gevoel gegee “alles is goed en ek doen goed”.

Maar dit was vandat ek dit die eerste keer gebruik het ’n leuen. Om cat te gebruik het my afgesonder laat voel en my by ’n baie, baie donker en klein wêreld laat inkrimp. Al mense in my wêreld was diegene wat betrokke was by die kry en gebruik van dwelms, en hulle wat maniere kon vind om nog dwelms te kry. Ek het baie selfsugtig en selfgesentreerd geword. Ek was die laaste een wat besef het ek het ’n probleem; ek kon altyd maniere kry om die skuld vir my probleme op almal rondom my te pak.

Verskeie korttermynherstelplanne het misluk. Dit het so erg geword dat my familie ’n hofbevel teen my gekry het. Die hof het my vir nege maande na ’n langtermyn-rehabilitasiesentrum gestuur. In dié tyd het ek baie min kontak met my familie gehad; ná vier maande kon ek hulle die eerste keer ’n naweek lank sien.

Die nege maande lange rehabilitasie was die moeilikste en ook die beste ding wat ek nog gedoen het. Ek het myself gevind, en vir die eerste keer in my lewe het ek ook vir God gevind. Ek glo werklik solank ek God in my daaglikse lewe het, sal ek nooit teruggaan na my ou gewoontes nie en ’n sukses van my lewe maak. Ek glo werklik as my vrou die “15 maniere om dwelmgebruik in ons huis te identifiseer” geken het, kon sy my van die begin af met my dwelmverslawing gehelp het.

Die volgende gedragsverandering was tekens van my verslawing

1. Dankie, Ma, ek is nie vanaand honger nie. (Cat verminder eetlus.)

2. Ek het my foon by “Piet” se huis vergeet en sal dit môre weer kry. (Heel moontlik is die selfoon die aand in ruil vir dwelms by die handelaar gelaat.)

3. Ek kon nie laas nag slaap nie, Ma. (Dwelmgebruik verminder slaaptyd en versteur slaappatrone.)

4. Ma, kan ek asseblief R150, R200, R300 vir ’n fliek/koeldranke kry? (Dis wat dwelms kos.)

5. Vreemde gedrag voor ander mense. (Deur net een lyn cat te gebruik, raak jy dadelik agterdogtig en angstig by mense.)

6. Baie positief/negatief. (Dwelms verander jou bui positief wanneer jy dit gebruik en negatief wanneer jy daaruit kom.)

7.Gedurige gesnuif, en sê dis weens sinus of griep.

8. Rusteloosheid (hiperaktiewe gedrag: sit, staan, loop, praat).

9) Ooraktief op die selfoon (BBM, SMS, Google, WhatsApp).

10) Aanhoudende gesigbewegings (mond en tong).

11) Hande/voete (voete skud gedurig en hande bly besig).

12) Geen sosialisering nie (woon nie familiesaamtrekke by nie).

13) Sweterige hande en gesig.

14) Oogkontak (minimale oogkontak tydens gesprekke).

15) Oormatige rook (kettingrook tydens sosialisering).

As ek net geweet het die onskuldige pret sou eindig in die baie pyn wat ek die afgelope paar jaar ervaar het, sou ek nooit vir my eerste lyn cat ja gesê het om my vriend te beïndruk nie. Dwelmverslawing lei na drie plekke: inrigtings, die gevangenis en die naaste lykshuis. Dwelmverslaafdes is nie slegte mense nie, hulle is mense wat in ’n oogwink die verkeerde besluit geneem het. Van daardie oomblik het hul lewe vir altyd verander. In die vroeë stadiums van verslawing is die verslaafde baie aggressief en in ontkenning wanneer hy of sy oor dwelms gekonfronteer word. Dis normaal, maar hoe gouer die mens hulp kry, hoe beter.

My boodskap aan dwelmverslaafdes en ouers vandag is: Dis baie moontlik om uit verslawing te kom as die verslaafde werklik hulp wil hê. Die verslaafde moet wil herstel voor hy of sy dit sal regkry.