Ek is die oudste van vier kinders, en die enigste wat met ’n portwyn-geboortevlek geseën is.

Weens die geboortevlek het ek gloukoom in my een oog. Andersins is ek so normaal soos enige vrou van 29.

Ek kan glad nie onthou dat ek as ’n klein meisietjie op skool gespot is nie; ek het te veel vriende gehad. Natuurlik het mense gevra waarom ek so lyk. Danksy my ma, pa, familie en ouma, het ek presies geweet hoe om nuuskieriges te antwoord . . .

Ek onthou ek het my ma gevra wat sy gedink het toe sy my die eerste keer gesien het. Ek kon sien dit was vir haar moeilik om te sê sy was hartseer – nie oor hoe ek gelyk het nie, maar omdat sy geweet het ek sou harder moes baklei om in die lewe te kry wat ek wou hê; mense oordeel ander volgens hul voorkoms.

Omdat ek self ’n ma is, kan ek my voorstel hoe sy gevoel het.

Destyds het min mense geweet wat die geboortevlek was. My ma onthou baie toetse is op my gedoen.

Ek het die eerste keer besef ek is anders as ander kinders toe ek in my tienerjare seuns begin raaksien. Tog was ek ’n normale tiener. Ek het nes enige tiener gaan dans en klubs besoek. Niks vreemds daar nie.

Vandag loop ek met my kop omhoog. Ek kruip glad nie in die huis weg nie. Ek verlaat nie die huis sonder grimering nie, maar ek is seker baie ander vroue doen dit ook nie.

[caption id="attachment_54492" align="aligncenter" width="300"]Riana sonder grimering Riana sonder grimering[/caption]

My liefde vir grimering het lank gelede begin, toe ek die eerste keer verhooggrimering aangewend het. Toe ek sien die grimering bedek my geboortevlek, en ervaar hoe dit my laat voel, het ek net daar besluit om ’n grimeerkunstenaar te word. Ek het my grimeerkursus in 2002 voltooi. Sedertdien help ek vroue oral in Suid-Afrika mooi voel.

[caption id="attachment_54494" align="aligncenter" width="300"]Riana se dogtertjie Riana se dogtertjie[/caption]

Ek het ’n suksesvolle onderneming wat ek bestuur saam met my suster, René Bester. Ek is die ma van ’n wonderlike dogtertjie, Mia-Mari. Ek probeer aan haar ’n voorbeeld stel om trots te wees op wie sy is. Ek het ’n wonderlike man, Hennie, wat my liefhet. Ná alles, is ek baie gelukkig!

[caption id="attachment_54493" align="aligncenter" width="316"]Riana en haar man, Hennie. Riana en haar man, Hennie.[/caption]

Ek hoop ander mense wat met so ’n geboortevlek moet saamleef en daaroor kla, sal inspirasie uit my verhaal put. Ek hoop hulle wil begin om tyd deur te bring saam met mense wat hulle liefhet vir wie hulle is. Ek werk byna elke dag saam met bekendes en modelle, en ek het nog nooit iemand teëgekom wat my anders behandel nie. Ek laat dit eenvoudig nie toe nie.

Ek hoop my verhaal wys met harde werk, en deur jou kop omhoog te hou, kan enigiemand met enige soort geboortevlek saamleef.

Jy het die reg om te lewe en om welslae te behaal – al het jy ’n geboortevlek, albinisme of enige soort skending van die gesig.