Loretta1

Niemand dink ooit daaraan dat daar dalk ’n dag in jou lewe sal aanbreek waarop jy jou voor ’n oop graf gaan bevind waar jy afkyk op jou geliefde kind se kis nie. Nie in my wildste drome of gedagtes het ek dit ooit kon dink of het ek dit vir een oomblik gevrees nie.

Dit het net gebeur. Ewe skielik het die nuus ons oorval sonder enige waarskuwing. Op Saterdag 19 April 2008, net ’n skrale ses weke ná haar troudag en in die fleur van haar lewe, het Mariska, ons jongste dogter, onverwags op die ouderdom van 26 jaar gesterf.

Mariska was ’n nood-ambulansassistent (ANA) in Secunda. Die ambulans, waarin drie personeellede en twee pasiënte was, was negeuur die aand op pad na Pretoria. ’n Steenkoolvragmotor met ’n sleepwa aangehaak, het ’n U-draai reg voor hulle probeer maak. Die ambulans met al vyf insittendes het op daardie oomblik die vragmotor getref.

IMG_0040-sfx

Mariska was agterin die ambulans saam met twee pasiënte; sy was daarom ook nie vasgegordel nie. Haar beserings getuig van die impak wat die ongeluk op haar liggaam gehad het. Sy het in die noodafdeling van die Mediclinic op Secunda gesterf.

Dis Sondag, die eerste dag sonder my kind. Later sou ek die gevoel wat ek toe ervaar het, verstaan. Ek voel armer; ek het iemand baie kosbaar verloor. Ek het net twee kinders; die helfte van my rykdom hier op aarde het ek saam met haar verloor.

Daar is geen verhouding soos dié van ’n ouer en ’n kind nie. Die band tussen ’n ouer en ’n kind is so kragtig dat dit baie dinge soos tyd, afstand, en verskille verduur en oorkom. Daarom is geen verlies so hartverskeurend soos die verlies van ’n kind nie. Met die afsterwe van ’n kind, voel ’n ouer minder volledig.

Ná die begrafnis hou die lewe nie op nie. Die lewenswiel begin stadig weer draai.

Jou geliefde se dood sukkel om tot jou deur te dring; dit voel so onwerklik! Dis asof jou verstand dit nie wil aanvaar nie. Party mense sê dis soos ’n nagmerrie waaruit hulle net nie kan wakker word nie. Die kere toe ek net nie kon glo dat my kind vir altyd weg is nie, toe ek  gedink het sy sal netnou by die deur instap, daardie tye het ek in my gedagtes weer langs haar sterfbed gaan staan sodat die werklikheid van haar heengaan ten volle tot my kon deurdring.

Die verdriet en verlange het my oorweldig soos golwe wat oor my spoel. Wanneer ek klaar gehuil het, voel ek beter en dit bring verligting vir my gebroke hart.

Aan die begin was dit baie moeilik om oor Mariska te praat sonder om te huil. Jy voel blootgestel en emosioneel breekbaar.

Jy kies self hoe jy hierdie pad wil stap. Weier jy om te vergewe vir dit wat jou aangedoen is? Ek reis saam met God; ek weier om Hom te los. As ek nie op Hom gesteun het nie, sou ek geval en bly lê het. Ek het besluit om nie op myself of op ander mense te steun nie. Mense is nie sterk genoeg om my te dra nie; net die Here kon.

Dit het nie saakgemaak hoe “geestelik” ons was nie: Dit maak seer! Emosionele pyn is vir die siel soos liggaamlik pyn vir die liggaam; dit vertel jou in die ondenkbaarste taal dat jy die Here nodig het om die geweldige ontwrigting te verwerk wat die dood veroorsaak. En die stryd begin nie terwyl jy nog deur mense omring word nie, maar wanneer jy alleen agterbly ná die begrafnis.

Ek het besluit om nie te bly fokus op die dag van haar dood nie, maar het gekies om liewer te fokus op die lewe wat sy as ’n hedendaagse barmhartige Samaritaan gelei het, deur mense in traumatiese omstandighede te help. As jou fokus net op die sigbare is en op die afwesigheid van jou geliefde, kan jy dalk die onsigbare wat ewig is, miskyk.

Namate die Here die genesing in ons hart bewerk het, kon ek eindelik ná vyf jaar terugkyk en met dankbaarheid getuig dat die Here self ons gebroke hart weer heel gemaak het, dat die son weer skyn, dat daar weer lewe is ná my kind se dood. God het die verlies van my dogter vir ons as gesin ten goede laat meewerk.

IMG_0150

Loretta se storie is ’n uittreksel uit haar boek “Lewe na ’n kind se dood”. Dit is as ’n e-boek beskikbaar by Kalahari.

As jy belangstel om die boek in druk aan te koop, nader Loretta by loretvos@mweb.co.za of skakel 017-648-5564.