Ek het van kleintyd af daarvan gedroom om self eendag ma te word, maar het nooit gedink my droom sou kon waar word nie.

Ek is gebore met ’n gebroke hart. Die hart was vergroot, vier hart kamers was omgeruil en die hartklep het gelek. Ná ek op negejarige ouderdom ’n beroerte gehad het, is ek op ’n waglys vir ’n nuwe hart geplaas. Ek moes drie maande wag voor ’n geskikte hart beskikbaar geraak het. Alles moes perfek pas: die grootte, bloedgroep en bindweefsel van die nuwe hart.

Op 30 Oktober 1996 het ek as 10-jarige in die Rooikruis-kinderhospitaal my nuwe hart ontvang. Ek moes my ‘nuwe’ liggaam en alles wat daarmee gepaardgaan, soos dat ek lewenslank op medikasie sou wees, leer aanvaar.

Ek het vinnig herstel en kon weer die normale lewe van ’n kind lei – ek het teruggekeer skool toe en in 2006 my matrieksertifikaat voltooi. Ná skool het ek na Johannesburg verhuis en saam met my eerste liefde my lewe begin. Sewe jaar later het die verhouding verbrokkel en ek het na my ouers se huis op Orkney teruggetrek.

In 2011 het ek die dokters by die hartoorplantingseenheid vertel dat ek graag ’n baba wou hê en dat ek toe reeds probeer swanger raak het. Die dokters het gesê ’n swangerskap sou ’n groot gesondheidsrisiko wees omdat dit groot stres op my hart sou plaas. Ek het toe daarmee vrede gemaak en my droom laat vaar om ’n ma te word.

Toe, byna twee jaar later, vind ek uit ek is swanger. Dit was ’n reuse skok omdat ek geweet het watter groot risiko dit vir my inhou. Die dokters het ook gesê my hartmedikasie kan skadelik wees vir die baba. Ek is na ’n ginekoloog in Bloemfontein verwys waar ek maandeliks gemonitor word. Ek moet ook gereeld na ’n kardioloog toe gaan om die risiko’s te monitor wat die swangerskap vir my hart inhou.

Dit is ’n onbeplande swangerskap en ek het aanvanklik gewonder of ek dalk droom. Ek was baie bang aan die begin. Dit is my eerste baba en sal beslis ook my laaste wees.

Nou is ek al 20 weke swanger en die baba, ’n seuntjie, gaan na verwagting op 6 Februarie aanstaande jaar gebore word. Sover lyk Lucian Maxwell (ek sal hom Max noem) baie gesond en die swangerskap verloop goed. Die ginekoloog en kardioloog het aanbeveel dat ek aanhou oefen tot op agt maande – ek eet ook sommer baie gesond en doen vyf dae per week spinning.

[caption id="attachment_53509" align="aligncenter" width="600"]18 Weke scan Die skandering op 18 weke wys ’n gesonde babaseun.[/caption]

Ek is dankbaar vir al die mense wat my al sedert die hartoorplanting, en ook nou tydens die swangerskap, ondersteun. Dokters, susters en mediese personeel wat my bystaan. Sonder my ouers se ondersteuning sou hierdie swangerskap baie moeiliker wees – dankie dat julle die pad saam met my loop.

Die hele swangerskap is vir my ’n uitdaging en ook ’n nuwe begin. Om ’n kind van jou eie in die lewe te bring is eenvoudig ’n wonderwerk van Bo. Ek glo daar is ’n rede vir als; die Here sou nie vir my ’n baba gegee het as Hy geweet het ek sou dit nie kon doen nie. Ek is geseënd om ’n tweede kans op die lewe te kon hê en nou weer om my eie vlees en bloed in die wêreld in te bring. Nou weet ek ook wat vrou wees beteken!

SAM_2615