Toe ek ses weke swanger in my ginekoloog se spreekkamer sit, was die lewe wat binne-in my gegroei het, maar net ’n kolletjie op die sonarskerm. Ek was so oorweldig om my ongebore baba te sien, ’n wonderwerk wat ek nooit gedink het moontlik sou wees nie dat ek in trane uitgebars het.

Toe ek 18 jaar oud was, is ulseratiewe kolitis by my gediagnoseer. Dit is ’n outo-immuunsiekte wat veroorsaak dat my immuunstelsel my liggaam aanval. Ek het gehoor ek sou waarskynlik nooit kon kinders hê nie. Die nuus het my swaar getref. Nadat ek jare as sieklike kind by die een dokter ná die ander was, het ek eindelik ’n naam vir my siekte gehad. Maar terselfdertyd het dit soos ’n doodsvonnis gevoel.

Eers het ek gerebelleer, partytjie gehou en soos ’n normale student probeer wees, maar toe skildklierkanker in 2009 by my gediagnoseer is, het ek besef dat ek nie met my siekte kon bekostig om so ongesond te lewe nie. My skildklier is verwyder en as afleiding het ek my in my sielkundestudie aan die Universiteit van die Vrystaat verdiep. Ek is in daardie selfde jaar met my man, Jan, getroud.

My storie

Toe gebeur die onverwagse. In Julie verlede jaar het ek soggens naar gevoel en was my borste gevoelig. Ek het ’n tuisswangerskaptoets gedoen. Ek het probeer om nie te hoopvol te wees nie, maar toe dit positief is, het ek so hard geskree dat ek dink ek amper vir Jan ’n hartaanval gegee het. Dit was so ’n verligting, maar ek het baie bang gevoel, asof dit te goed was om waar te wees.

My seun, Adrian, is op 28 Maart gebore. Toe ek hom in my arms vashou, het ek gedink: Hoe is dit moontlik dat my liggaam wat die grootste deel van my lewe deur siekte afgetakel is, vir my hierdie geskenk kan gee? Hy is so ’n oulike kind. Soms voel dit onwerklik, asof hy iemand anders se kind is. Maar hy is my wonderbaba.

My storie