Ek het altyd gehou van sport, veral van landlope, perdry en sierskaats. Ek was gesond en gelukkig. Ek het ’n liefdevolle kêrel en baie vriende gehad. Ons het ’n goeie sosiale lewe gehad en aan pretdrawwe deelgeneem. Ek het by die pretlope en pretdrawwe nuwe vriende ontmoet. Ek was lief vir die lewe.

Ek het die wêreld aan my voete gehad . . . of so het ek gedink. Maar toe het my storie verander.

Ek het ’n dowwe pyn in my ribbekas begin kry. Ek het gedink ek het ’n spier seergemaak. Ek is dokter toe en hy het my vir ’n verdere ondersoek na ’n spesialis verwys. Die sogenaamde spesialis het besluit ek moet ’n miëlogram kry. Dis ’n prosedure waartydens ’n spesiale kleurstof saam met X-straalfoto’s gebruik word om beelde van die bene en die ruimtes tussen die bene in my ruggraat te wys. ’n Naald sou aan die onderkant van my ruggraat ingedruk word, ’n kleurstof ingespuit word, gevolg deur ’n X-straalfoto/skandering.

Op daardie noodlottige dag in Maart 2001 het die miëlogram tragies skeefgeloop. Dit het my verlam, vir altyd aan ’n rolstoel vasgekluister. Ek het senuweeskade en spinale bloeding opgedoen. Ek was 34.

Alles wat ek vanselfsprekend aanvaar het, soos om te loop, het skielik opgehou.

Ek het as ’n fikse, gesonde, aktiewe jong vrou by die hospitaal ingestap en verlam in ’n rolstoel huis toe gegaan. Dit het gevoel soos ’n nagmerrie waaruit ek wou wakker skrik. Ek was verpletter.

Die grootste uitdaging van my lewe het voor my gelê.

My lewe het die volgende vyf jaar om dokters en hospitale gewentel. Ek moes 10 groot operasies ondergaan, waarvan een ’n beenamputasie was. Alles was weens die verlamming. My lewe het baie kere aan ’n draadjie gehang, maar hoe dan ook al het ek dit reggekry om te veg, om vir nog ’n dag te leef.

Ek het nooit moed opgegee nie, hoewel ek op ’n emosionele vlak ’n gebroke mens was. Ek moes die lewe in ’n rolstoel aanvaar. Ek moes leer hoe om weer onafhanklik te wees: hoe om ’n aangepaste voertuig te bestuur, myself te bad, noem maar op. Dit het lank geduur om van 10 traumatiese operasies binne vyf jaar te herstel. Ek het eindelose komplikasies ná die operasies gehad, sowel as bloed- en bakteriële ontsteking. Ek is verskeie kere aan lewensondersteunende apparate gekoppel.

Mettertyd het my gesondheid verbeter. Ek het ter wille van my familie terugbaklei.

Maak nie saak hoe nie, ek wou my aktiewe lewe terughê.

Ek het maande in rehabilitasiesentrums deurgebring en behandelings soos fisioterapie gekry. Ek moes leer kook; hoe om onafhanklik te wees. Dit was ’n uitdagende tyd en ek moes hard werk. Ek moes my toestand aanvaar. My herstel was stadig. Tog het ek onophoudelike hulp, liefde en ondersteuning van my liefste ouers en eindelose aansporing van familie, vriende en my versorger gehad. Ek het my selfvertroue begin terugkry.

Fisioterapie het voortgegaan. Ek het nuwe doelwitte gestel en sterker geword. Ek was gesonder en positief.

Ek het weer saam met my vriende begin kuier. Ons het saam gelag en gehuil.

In 2007 het ek my rybewys in my aangepaste motor geslaag. Ek het trane van vreugde gestort en geweet dis ’n teken dat ek besig is om my lewe terug te kry. My rybewys was my kaartjie na vryheid.

Ek het in groot mate met my lewe aangegaan. Ek lewe voluit: Ek oefen elke dag; ek kook. Ek lei ’n heeltemal onafhanklike lewe in my rolstoel. Ek geniet “pretdrawwe” in my rolstoel. Dit inspireer my om meer te doen en nooit moed op te gee nie.

Ek hoop my verhaal sal inspirasie en hulp wees vir ander mense, ongeag van watter traumatiese gebeure hulle nou beleef of deurgemaak het nie. Die sleutel is tyd, geduld en ’n goeie ingesteldheid. Die lewe raak beter. ’n Mens glimlag stadigaan weer.

Ek dra hierdie verhaal op aan my liewe ouers, wat in die donkerste dae van ons lewe sonder ophou geveg het om my weer onafhanklik te maak. Hulle is my helde.