Hoe sê hulle? Oud word is nie vir sussies nie. As jy jou kom kry, is brille en pille jou metgesel.

In ons jongdae het ons nie juis die woord “entrepreneur” geken nie. Ons het wel geweet jy moenie jou talente begrawe nie.

Ons kleinkinders het toe ons talente onder die maatemmer kom uithaal. Ouma Henna moet stories vertel en oupa Chris moet prentjies teken. Nou is ons ’n span, ’n wenspan. Ek skryf die stories en Chris teken die prentjies. So het Storieland se storieboekies ontstaan. Ons kleinkinders het ons entrepreneurs gemaak. Ons kom toe agter, met harde werk kan jy die ouderdom troef.

Ons woon op Roedtan, nie ver van Naboomspruit af nie. Ek is 65 en Chris 67. Hy werk nog by ’n kalkmyn en kom saans eers teen halfses by die huis.

[caption id="attachment_58260" align="aligncenter" width="600"]Janie, Chris en Henna se dogter. Janie, Chris en Henna se dogter.[/caption]

Janie, my dogter, is in ’n rolstoel. Sy is my inspirasie, die een wat my elke dag laat lag, sy laat die onderneming op geoliede ratte loop, sy sorg dat die wiele behoorlik rol. Ons wil graag met die inkomste wat ons uit die boekies verdien, vir Janie onafhanklikheid gee.

[caption id="attachment_58261" align="aligncenter" width="600"]Chris Coetzer Chris Coetzer[/caption]

Chris het op Nylstroom (Modimolle) grootgeword en skoolgegaan; ek het op Gobabis in Namibië grootgeword.

Ek glo my liefde vir stories het begin op ons plaas, Brakpitz, net buite Gobabis. Die storieverteller was oom Frans. Hy was ’n Griekwa, so om en by die 70 jaar.

Vrydae het hy vir ons ’n skaap geslag; gesorg vir ’n vleisie op die tafel tot volgende week. Dan het hy tot groot vermaak stories vertel, terwyl hy vir ons skaaplewer sommer so op die oop kole tussen die as gebraai het.

Met groot respek het ek die gryskop-oom bewonder en sy stories terdeë geniet. Ek het gewens ek kan ook eendag sulke mooi stories vertel. Hy het altyd van diere vertel en soms so vir die lekkerte ’n spookstorie ingegooi. Ongelukkig kan ek nie sy stories onthou nie, maar oom Frans het beslis die saadjie van stories vertel by my geplant. Die meeste van my stories is ook dierestories. Dis nie dat ek dit so beplan nie; dit gebeur net.

Ons is nou 13 jaar besig met Storieland. Ons het besluit om die boekies self te druk, te bind en uit te gee. Dit was makliker gesê as gedaan. Min het ons geweet dat jy Job se geduld en Salomo se wysheid nodig het. Ons hele huis was vol boeke. Ons het in die eetkamer, sitkamer, ag, sommer oral in die huis gewerk. Ons het baie foute gemaak, gesukkel en behoorlik skoolgeld betaal, maar vandag is ons boeke in ’n hele paar skole.

[caption id="attachment_58262" align="aligncenter" width="600"]Een van die Storieland-boekies Een van die Storieland-boekies[/caption]

In die week doen ek en Janie die drukwerk en naweke help Chris die boeke bind. As hy kans sien om ’n prentjie of twee op ’n Saterdagmiddag so tussen die rugby kyk te teken, is ek tevrede.

Aanstaande jaar sal ons eerste boekies in Sotho verskyn en ook ’n leesreeks in Engels.

Die boekies is propvol spreekwoorde. Dan is daar begripsvragies wat die kleintjies geniet. Daar is ook ’n Afrikaans-Engels-woordelys agterin elke boek.

Ons hoop ons kan ander inspireer om hul talente te gebruik. Doen wat jy graag wil doen met volle oorgawe, geloof en selfvertroue. Hou aan en aan. Probeer weer en weer.

Ons dank die Here vir die gawe wat Hy vir ons gegee het. Ons vra dat Hy elke storieboekie sal seën sodat dit ’n bron van vreugde in kinderhande kan word.

As jy belangstel in die Storielandreeks, nader Chris en Henna by storieland@vodamail.co.za of 082-259-4459.