Petro-Anne Vlok

Dit het alles op 24 Maart begin. Ek het gordyne opgehang toe my voet van die stoel af gly en ek die linkerkant van my kaak teen die vensterbank kap. By die plaaslike kliniek is ek aangesê om vir X-strale te gaan, want my kaak is dalk gekraak. Maar ek het nie gedink dit kon so ernstig wees nie.

Twee dae later was my gesig opgeswel en het ek verskriklik pyn gehad. Met nog ’n besoek aan die hospitaal is ek na ’n tandarts verwys. Dié het vir my pynpille en antibiotika vir die absesse gegee wat in my kaak gevorm het.

Die swelsel het gebly en die pyn was so ondraaglik dat ek terug is na die tandarts toe. Sy het die absesse geprik en gedreineer. Die volgende dag was ek so moeg dat ek skaars kon staan en het dit gevoel of iemand op my borskas sit.

Ek het ’n vriend gebel en hom gesmeek om my te kom haal. Op pad na my huis toe het hy ’n ambulans gebel en hulle het tegelyk daar opgedaag. Ek onthou nog die paramedici het my op die draagbaar gelig, maar daarna het alles swart geraak toe ek in ’n koma verval.

Die dokters het later vir my gesê die gifstowwe van die absesse het in my liggaam ingesypel en veroorsaak dat my longe, niere en pankreas ingee. Die dokters by die Kalafong-hospitaal in Pretoria het koorsagtig gewerk om my lewe te red, maar hulle het ook vir my gesin gesê ek gaan dalk nie oorleef nie.

My storie

Ná sowat twee weke het ek uit die koma ontwaak, maar ek moes nog vyf weke in die hospitaal deurbring. Die ergste was om van my vierjarige dogter, Jacqueline O’Kelly, af weg te wees. Sy het by haar oupa en ouma gebly en ek het geweet sy is in goeie hande, maar ek kon nie die gedagte verduur dat sy wees gelaat moes word nie. Haar pa, Jacques O’Kelly, is in ’n motorfietsongeluk dood toe ek haar nog verwag het. Ek was vasbeslote om vir my dogtertjie beter te word.

My storie

My pad na herstel was moeilik en ek is nog nie honderd persent nie. Ek het in die hospitaal ’n beroerte gehad en ek moes weer leer loop. Ek is nou weer op die been, maar loop steeds met ’n kierie. Ek was op die drumpel van die dood, maar het herstel danksy die ondersteuning van my vriende en familie. Ek voel die Here het my ’n tweede kans gegee om daar te wees vir my dogter. En daarvoor is ek dankbaar.