Chanelle en haar man, Neels, by Justin.

Die Bloemfonteinse fotograaf Chanelle Bodenstein, 31, het in Junie haar seun, Justin, aan die dood afgestaan. Hier is haar verhaal:

Toe Justin in Mei siekerig word, het ek en my man, Neels (32), hom dokter toe gevat. Die dokter het gesê dis mangelontsteking. Hy het antibiotika gekry, maar dit het nie gewerk nie. Toe ons hom die vierde keer dokter toe vat, het die bloedtoetse gewys sy witbloedtelling is baie laag en sy beenmurg onder druk.

Die volgende stap was om ’n beenmurgtoets te doen om presies vas te stel wat fout is. Toe die dokter vir Neels sê Justin het bloedkanker, was ons uit die veld geslaan.

Ek is toe sak en pak saam met Justin Pretoria toe. ’n Dag later het ons met die eerste fase chemo begin. Justin het dit baie goed hanteer en glad nie newe-effekte getoon nie.

Ná twee dae het sy suurstofsaturasie begin val en hy is na die intensiewesorgeenheid geskuif. Hier het hulle Justin weer suurstof gegee en hom 24 uur per dag gemonitor. Sy hare het begin afbreek; hy het dit in sulke klosse uitgetrek, vir my gegee en daaroor gelag. So siek soos wat hy was, het hy nooit gesê hy voel sleg of het seer nie. Dit het my hart gebreek, want hy het seker gedink dis maar waardeur jy gaan as jy byna drie jaar oud is.

Ná ses dae het die dokter gesê hulle is baie bekommerd omdat Justin se longe vinnig agteruitgaan. Die volgende paar dae in die intensiewesorgeenheid het die een soos die ander verloop, tot een dag. Sy suurstofsaturasie het begin verbeter en hulle kon hom van suurstof begin speen. Ons was so opgewonde dat hy beter word, al was hy steeds kritiek.

Op Donderdag 13 Junie, ’n maand sedert die diagnose, is ’n wêreldbiddag vir Justin gereël. Daardie nag het ek die intensiewesorgeenheid gebel en gevra hoe dit met my seun gaan. Die dokter het die gevreesde woorde gesê: “Dit gaan nie goed nie; ons is besig om Justin te verloor. Ek dink julle moet hospitaal toe kom.”

Dit was nie twee ure later nie, toe groet ons ons seun. Ons vegtertjie het op die ouderdom van twee jaar, 11 maande en 19 dae by die Unitas-hospitaal in Pretoria sy stryd teen bloedkanker verloor.

Eintlik het die Here elkeen van ons se gebede verhoor. Hy het ons geantwoord. Ons het gevra die Here moet Justin genees, en Hy het. Ons glo Justin is volkome genees daar waar hy nou is. Op die ou einde is ons maar net vir mekaar geleen.

- Chanelle Bodenstein