Ek het ’n pop in my voortuin. Haar naam is Greetje. My man, Jan, is sterwend aan kanker en om Greetje elke dag mooi aan te trek hou my besig.

In 2011 was ek by Klaarstroom anderkant Meiringspoort. Daar het ek die mooiste strooipoppe gesien. Ek wou dadelik graag een hê, maar hulle was nie te koop nie. Ek het toe eers self ’n pop gemaak, maar later ’n regte winkelpop by ’n antiekwinkel gaan koop. Ek het haar Greetje gedoop, soos een van die komediant Casper de Vries se karakters, want ek wou hê sy moet ’n snaakse naam hê, met ’n “r” in wat lekker oor ’n mens se tong kan rol.

Greetje het ’n hangkas vol van haar eie klere. Sommige is van my ou klere, maar ek koop ook vir haar klere by tweedehandsewinkels. Sy het ook verskillende pruike. Party dae sit sy in die tuin, ander dae staan sy met ’n verestowwer in haar hand. Haar uitrusting weerspieël my bui: Wanneer ek ’n bietjie moedeloos is, doen ek nie te veel moeite met haar nie. Maar wanneer ek goed voel, trek sy spoggerig aan.

Die mense is mal oor haar. Ma’s het my al gebel en vertel hoe hul kinders smeek dat hulle verby my huis ry om te sien wat Greetje dié dag aanhet. As dit koud en nat buite is, vat ek haar nie uit nie. As sy die dag laat is, lui mense my hek se klokkie. Soveel mense kom vra of hulle ’n foto van haar kan neem.

Ek hoop ek kan ander aanspoor om ook ander mense soggens op pad werk toe te laat glimlag. Ek het nooit gedink ek sal soveel verbygangers se dag opkikker nie.

- Suzaan Hauman