Andre Janse van Rensburg (22) van Worcester se lewe is verander toe hy trans-feeste  ontdek het. Hy deel sy verhaal om ander jongmense te waarsku teen dié verskynsel.

[caption id="attachment_54676" align="aligncenter"]Partytjie Foto: David Domingo (Flickr)[/caption]

My storie het omtrent ’n jaar gelede begin toe ek die euwel van trans-feeste ontdek het. Ek het glad nie geweet wat dit regtig is of wat nou eintlik daar gebeur nie. Ek het maar gedink dit is soos enige gewone musiekfees, maar het nooit geweet wat daar op my wag nie. Trans-feeste vind plaas in die somermaande, van September tot Mei, en is gewoonlik op afgeleë plekke waar die polisie nie maklik sal opdaag nie.

Ek het die eerste keer in April 2012 ’n trans-fees op Gouda bygewoon. Daar was honderde jong mense, die meeste van hulle het soos hippies gelyk. Almal van hulle het gelyk of hulle in hul eie wêreld is – toe besef ek wat werklik aangaan. Daardie Saterdagaand het my paadjie met dwelms begin.

Daar is geen manier wat jy ’n trans-fees kan oorleef sonder dwelms nie. Dwelms was oral by die fees beskikbaar en ek het sommer vinnig self daarvan in die hande gekry. Almal het my aangeraai om MDMA te gebruik – dit het my energie gegee om ure aaneen te kon dans. Maar oor die gevolge het niemand my gewaarsku nie.

My familie het geen idee gehad waar ek was nie en die volgende oggend moes ek my “pose” voor hulle hou. Die depressie het sowat ’n dag later begin – al wat sou help, was om weer na ’n trans-fees te gaan. By elke fees het ek ál meer dwelms gebruik en ek het ook elke keer ’n nuwe middel probeer.

Teen Oktober wou ek dié gewoonte stopsit, maar die dwelm-hel het my nie so maklik laat gaan nie. Ek kon nie meer daarsonder klaarkom nie; al waaraan ek kon dink was die volgende “high”. Ek het op my eie dorp dwelms begin koop. Kort voor lank het dit my hele lewe oorheers.

Ek het ’n goeie salaris as ’n assistentbestuurder verdien. My dwelmgewoonte was duur en ek het my besittings begin verkoop. Toe ek niks meer oorgehad het nie, het ek by die werk geld gesteel om my leefstyl te onderhou. Dit het maande lank so aangegaan. Dit het gevoel asof ek geen God gehad het nie en ek het ander beelde begin aanbid om hulp af te smeek. In Junie verlede jaar het ek my werk verloor en dit het gevoel asof my lewe in duie stort – my geheim sou uitkom.

Die dood het na die enigste uitweg gelyk. Ek het pille gekoop en dit een vir een gesluk tot ek my bewussyn verloor het. Toe ek wakker word, was daar polisie en noodhulpmense in my kamer – gelukkig het my woonstelmaat my aangetref en betyds hulp gaan kry. In die hospitaal is my maag gepomp om van die pille ontslae te raak en ek is eers twee weke later ontslaan.

Ek kon nie bekostig om na ’n rehabilitasiesentrum te gaan nie en toe is ek weer op my eie. Maar my lewe het toe verander: Ek het tot bekering gekom, is gedoop en het ingeskakel by ’n kerk. Nou wil ek graag ander jong mense waarsku teen die gevare van dwelms en veral trans-feeste.