Die ma van die gr. 7-seun wat deurgeloop het onder ’n wrede aanval deur boelies op die skoolterrein van die Laerskool Randfontein, wes van Johannesburg, het die trauma wat hy ervaar het, in ’n onderhoud met Radiosondergrense (RSG) beskryf.

“Dit was hartverskeurend,” het die ma aan die RSG-joernalis Jacques Steenkamp gesê. “Geen ouer moet ooit so iets beleef nie.”

Die ma, wat nie wou hê haar naam moet bekendgemaak word nie, het gesê sy het ’n klag aanhangig gemaak teen die seuns wat haar kind aangeval het.

“Hulle moet uit die skool geskors word. Ek het misdaadklagte teen hulle ingedien,” het sy gesê.

Die polisie het dit bevestig.

Die ma sê haar seun was getraumatiseer ná die voorval en het ook talle beserings opgedoen.

“Basies het van die bene in sy hand terugbeweeg van die skoppe wat hy op die hand gekry het. Hy het kneusplekke, ’n stukkende lip . . . maar dank Vader hy is nie ernstig beseer nie.”

Die Gautengse onderwysdepartement sê een van die seuns is dadelik geskors. Tugoptrede staar nog 13 seuns vandeesweek in die gesig gestaar.

’n Video van die aanval op haar seun het die naweek soos ’n veldbrand op sosiale media versprei. Dit wys hoe ’n seun die slagoffer na die speelgrond lok en dan begin die groep seuns se aanval.

Bron: News24