Roo’tjie is ’n doodnormale driejarige seuntjie. Hy is lief vir vragmotors, legkaarte en pruime.

Hy is ook lief vir blink tutu’s.

“As hy daaroor gevra word, sal hy sê die tutu’s laat hom pragtig en braaf voel,” sê sy ma, Jen Anderson, van Massachusetts in die VSA. “As hy verder uitgevra word, sal hy sê daar bestaan geen reëls oor wat seuns kan dra en wat meisies kan dra nie.”

[caption id="attachment_135202" align="alignnone" width="615"]Klein Roo in sy tutu op die strand. Foto: Facebook Klein Roo in sy tutu op die strand. Foto: Facebook[/caption]

Volgens Jen hou hy so baie van sy gunsteling-tutu dat hy dit al kerk toe, winkels toe, op die trein en in die sandput gedra het.

“Ons het al ’n klompie goedbedoelde vrae gekry, ons het hulle beantwoord en alles was reg. Alles WAS reg, tot gister,” het Jen op Facebook gedeel.

Lees ook: Ontstoke ma skryf ope brief aan skoonma’s

Sy vertel die skokkende verhaal in ’n roerende ope brief.

“Iemand wat daarop aangedring het om die rede te hoor waarom my seun ’n romp dra, het [ons] bygedam. Ons het nie geweet wie hy is nie, maar dit het voorgekom asof hy ons al ’n tyd lank dophou.

“Ek is net nuuskierig,” het die man gesê. “Hoekom hou jy aan om dit aan jou seun te doen?”

Hy was nie nuuskierig nie. Hy het nie antwoorde gesoek nie. Hy wou net seker maak dat ons albei weet dat dit wat my seun doen – wat ek hom TOELAAT om te doen – verkeerd is.

“Sy behoort dit nie verder aan jou te doen nie,” was sy woorde. Hy het regstreeks met my seun gepraat. ‘Jy’s ’n seun. Sy’s ’n slegte mamma. Dis kindermishandeling’.”

Hoewel ek hom gevra het om nie foto’s van ons te neem nie, het hy voortgegaan daarmee en my gedreig. “Nou gaan almal weet,” het hy gesê. “Jy sal sien.”

Jen was woedend en het die polisie gebel. Hulle het haar verklaring afgeneem en vleiende opmerkings gemaak oor Roo se rompie.

Lees ook: Ma skryf ope brief van ‘onversetlike liefde’ aan eiewys 13-jarige seun

Maar die arme Roo’tjie was ontroosbaar.

Volgens Jen voel hy nog steeds onveilig.

“Hy wil weet: ‘Kom die man terug? Die nare man? Gaan hy nog onvriendelike woorde oor my romp uitskree? Gaan hy nog foto’s neem?’.”

“Ek kan nie met sekerheid sê nie,” gaan Jen voort. “Maar ek kan dít sê: ek gaan my nie laat intimideer nie. Ek gaan beslis nie kwesbaar of bang voel nie. Ek gaan nie toelaat dat kwaai vreemdelinge my seun aansê wat hy kan dra of nie kan dra nie.

Lees ook: Derick Hougaard skryf hartroerende ope brief aan sy tweeling seuns

“Die wêreld mag dalk nie vir my seun lief wees omdat hy is wie hy is nie, maar ek is. Ek is op die aarde geplaas om seker te maak hy weet dit.

“Ek gaan hom op elke moontlike manier wys dat ek die mens wat hy is, na waarde skat, dat ek vertroue het in die manier waarop hy homself beskou en dat ek sy keuses steun – wat ander mense ookal sê, en dit maak nie saak wie ookal hom probeer keer of hoe dikwels hy/sy dit probeer doen nie.”

Jen se plasing, tesame met ’n pratige foto van Roo op die strand, in sy pragtige pers tutu, is meer as 40 000 keer gedeel en het heelwat komplimente ingeoes.

Die terugvoering was oorweldigend in Jen se guns en het haar gesteun.

“Niemand het die reg om jou seun van sy onskuld en glans te beroof nie,” was een vrou se kommentaar. “Dis ’n skande dat party mense so onbuigbaar is dat hulle probeer om aan andere voor te skryf wat hulle moet doen.”

’n Man het geskryf, “As jy ’n pers (of watter kleur ookal) tutu in my grootte kry, sê vir Roo ek is enige tyd gereed vir ’n wandeling.”