Sy onthou nog die presiese woorde toe ’n kollega met die tyding bel wat haar wêreld in duie sou laat stort: “Jou kind se kop het hom gelos!”

[caption id="attachment_124344" align="aligncenter" width="600"]Foto verskaf. Foto verskaf.[/caption]

Kort ná die skokoproep op 17 April verlede jaar het Jenet Müller (44) die sowat 15 km van haar werk op Evander aangedurf na Secunda, waar ’n hameraanval toe pas dood en verwoesting gesaai het.

Haar seun, Adam (toe 23), het ’n bietjie meer as ’n maand tevore as stoorbestuurder begin werk by die Secunda-tak van dieselfde konstruksiemaatskappy waar sy ma werk. Hy het na bewering twee van sy kollegas aangeval. Een sou ná ’n hou oor die kop by die dood omdraai.

Buite in die straat het drie niksvermoedende verbygangers ook onder die hamerhoue deurgeloop.

Lourens de Lange (23) is langs sy swanger verloofde, Karin Louw (23), en hul tweejarige dogter toegetakel. Hy is so erg beseer dat hy die volgende dag in die hospitaal breindood verklaar is. Karin is twee keer teen die kop getref en moes steke kry. Hul kind is wonderbaarlik ongeskonde in haar stootwaentjie agtergelaat.

[caption id="attachment_124340" align="aligncenter" width="600"]Foto: The Ridge Times Foto: The Ridge Times[/caption]

Nog ’n voetganger, Themba Shabalala (40), is daar naby in Roy Campbellstraat doodgeslaan.

Adam – of Attie soos almal hom noem – is in die Evander-streekhof op twee aanklagte van moord, vyf aanklagte van poging tot moord en ’n klag van opsetlike saakbeskadiging aangekla.

Die saak is op Dinsdag 26 April ná ’n jaar eindelik gefinaliseer. Die beskuldigde is onbevoeg verklaar om verhoor te word en wag tans in die Ermelo-gevangenis op ’n bed in die Weskoppies Psigiatriese Hospitaal, waar hy voortaan behandel gaan word.

Jenet kan nou eindelik probeer om tot verhaal kom oor wat daardie tragiese dag gebeur het. “Ek kan dit steeds nie glo nie. As hy net die regte hulp gekry het,” sê Jenet op die stoep van die netjiese gesinshuis op Evander, waar sy en haar man hul bruinoogseun en sy jonger suster grootgemaak het.

[caption id="attachment_124334" align="aligncenter" width="600"]Foto: Papi Morake Foto: Papi Morake[/caption]

Sy suster en Attie se pa wil nie hul name genoem hê nie.

“Attie was eintlik ’n lieflike kind – liefdevol – ’n mens moes hom net rustig hou,” onthou die ma en vee haar vlamrooihare weg. Met haar helderpienk lippe probeer sy glimlag terwyl sy eintlik teen die trane veg.

“Attie was ’n besige klein seuntjie; hy het altyd ’n willetjie van sy eie gehad. Hiperaktief! Hy sou heeldag met kos in sy mond rondloop; dan moet ’n mens hom herinner om net eers stil te sit en te kou.”

[caption id="attachment_124342" align="aligncenter" width="600"]Foto verskaf. Foto verskaf.[/caption]

Wanneer hy nie onder die invloed van dwelms was nie, was hy vriendelik, ordentlik en kalm en het hy net goeie bedoelings gehad. Michelle Lindeque (32), Jenet en Attie se werkgewer, vertel ook sy het Attie as ’n “vrek oulike kind” leer ken.

“Hy was baie, baie hardwerkend. Hy het so oulik reggekom.”

Twee psigiaters het hom in die gevangenis evalueer. Hul verslae moes voor die hof dien om sy bevoegdheid te bepaal om verhoor te word, het die Nasionale Vervolgingsgesag aan Huisgenoot bevestig, maar hul bevinding is reeds vroeg vanjaar aan Jenet oorgedra: Haar seun is ’n skisofreen.

Iemand moes ingegryp het, meen Jenet. Sy vertel dieselfde diagnose is agt en ’n half maande voor die treurspel reeds by die Evander-staatshospitaal gemaak.

Attie is daar opgeneem nadat hy sy ouma Dot Müller (65) en sy ouers tydens ’n woedeuitbarsting met die dood gedreig het. Jenet beweer sy het Evander-staatshospitaal gesmeek om Attie, wat nie tot ’n mediese fonds behoort nie, ná sy diagnose as skisofreen tot ’n staatspasiënt te verklaar sodat hy in ’n psigiatriese hospitaal behandel kan word.

Sy beweer hy is egter ná ’n week met pille huis toe gestuur.

Ná die moorde het Jenet verslae by die hospitaal bekom om dit aan die polisie en hof te verskaf. Van die verslae, wat in Huisgenoot se besit is, sê nog dae voor sy ontslag hy is “onstabiel”, “’n gevaar vir homself en dié rondom hom” “en die stemme in sy kop sê hom aan om dinge te doen – om sy werk te los en sy ouers dood te maak”.

Jenet sê: “Dit was ’n groot fout (om hom te ontslaan). As Attie die nodige hulp gekry het, was soveel mense se lewe nie nou verwoes nie.”

Volgens Dumisani Malamule, provinsiale woordvoerder van die departement van gesondheid, is daar geen rekord daarvan dat Jenet versoek het Attie moenie ontslaan word nie en na ’n psigiatriese instelling verwys word.

Hy het bevestig Attie was in Junie 2014 12 dae lank daar opgeneem. Hy was met sy aankoms glo psigoties en onder die invloed van dwelms. Verskeie dokters het hom behandel. Een van hulle het ’n bipolêre gemoedstoestand by hom gediagnoseer voor hy op 25 Junie ontslaan is.

Dumisani sê Attie is daarna as ’n buitepasiënt behandel en het verskeie opvolgbesoeke gehad. Op die dag van die moorde was hy juis veronderstel om weer die hospitaal te besoek, maar hy het uiteraard nooit opgedaag nie.

Intussen het Jenet besef hoeveel traumatiese gebeure Attie kleintyd deurgemaak het. Hy het hom tot op ses jaar nog maklik natgemaak, vertel Jenet. Toe dit eindelik blyk hy is met ’n blaasdefek gebore, moes hy ’n groot operasie ondergaan. Sy ma onthou hoe kwaad hy daaroor was. “Hy het ná die operasie, terwyl hy nog baie pyn gehad het, vir my gesê: ‘Mamma, ek was gesond en julle het my siek gemaak!’”

Op laerskool is Attie kwaai oor sy klein liggaamsbou geboelie. “Ek dink hy het op hoërskool besluit hy sal nie meer vertrap word nie; hy sal nou die trapwerk doen,” sê sy ma.

[caption id="attachment_124343" align="aligncenter" width="600"]Foto verskaf. Foto verskaf.[/caption]

In sy gr. 9-jaar is hy betrap dat hy naby die skool dagga rook en hy is die volgende jaar ná ’n bakleiery uit die skool geskors. Sy ouers het hom vir behandeling na Johannesburg gebring, waar ’n nog groter skok op hulle gewag het.

“Ons het uitgevind hy het agter ons rug al byna elke dwelm onder die son gebruik, insluitend heroïen,” vertel Jenet. “Ek onthou ek het hom nog gevra: Hoe? Waar? Wanneer? Ek was geskok; ons het altyd streng reëls gehad.”

Attie het byna sy hele gr.11-jaar in ’n rehabilitasiesentrum op Ellisras deurgebring. Dit het aanvanklik gelyk of die langtermynrehabilitasie suksesvol was, maar terug op sy tuisdorp het hy weer met sy dwelmvriende deurmekaargeraak en alles van sy klere tot sy geliefde kitaar vir dwelms verkwansel.

Teen die tyd dat hy matriek moes skryf, was sy ouers by breekpunt. Attie was op pad om ’n vraestel te skryf toe hy vir sy pa sê die Here het vir hom gesê hy het nie matriek nodig nie. Hy het volstrek geweier om verder eksamen te skryf.

Dieselfde dag is sy pa se motorfiets uit hul erf gesteel – saam met die sleutels en dokumentasie wat in die huis was. Dit was die laaste strooi. Al kon hulle nie bewys Attie is die skuldige nie, het sy ouers hom uit die huis geskop. Hy het toe by Dot in ’n kothuis op dieselfde erf gaan woon.

In Junie 2014 het sy ná sy ontslag uit die Evander-hospitaal probeer toesien dat hy gereeld sy medikasie neem en weekliks ’n pastoor raadpleeg.

Toe dit lyk of sy toestand verbeter en Attie sê hy wil werk, het Jenet hom werk help kry by die Lynco-konstruksiemaatskappy, waar sy in die finansiële afdeling werk.

[caption id="attachment_124341" align="aligncenter" width="640"]Foto verskaf. Foto verskaf.[/caption]

Die oggend van die moorde het Attie in ’n woedebui yskoue water oor haar kop uitgegooi, vertel Dot.

Sy het droë klere gaan aantrek en hom daarna werk toe geneem. Deur die loop van die oggend is hy kafee toe, het hulle later gehoor. Hy het vermoedelik toe die berugte dwelmmiddel nyaope gerook. Dis ’n gevaarlike mengelmoes met enigiets van dagga tot rotgif.

Daarna is twee van sy kollegas, William Sikhotla (30) en Pottie Potgieter (53), bygedam. William se arm is beseer en Pottie is oor die kop geslaan.

By die nabygeleë Secunda Bloemiste het die werknemers die deur net betyds toegemaak, maar ’n glasdeur is met die hamer beskadig.

[caption id="attachment_124338" align="aligncenter" width="600"]Foto: The Ridge Times Foto: The Ridge Times[/caption]

Daarna het voetgangers in die straat op die oog af lukraak deurgeloop. Lourens, Karin en Themba was waarskynlik bloot op die verkeerde tyd op die verkeerde plek.

Karin vertel sy kry steeds nagmerries. “Ek kan dit nie vergeet nie.” Sy was ses maande swanger met haar en Lourens se tweede kind en sou die einde van daardie maand trou. Sy moes hul tweede kind vir aanneming opgee omdat sy nie alleen vir haar ook sou kon sorg nie.

Mense het Attie met pikke en grawe aangeval en sy kakebeen is in die proses gebreek. Iemand het ’n vuurwapen gaan haal.

“Hulle het hom amper doodgeskiet,” sê Jenet. Hy was kalm en verdwaas toe sy opdaag. Sy eerste woorde aan haar was: “Wat het gebeur?” Tog sou hy later teenoor sy ma beweer die Here het vir hom gesê as hy nie nou mense doodmaak nie, is hy ’n lafaard.

Jenet vind troos daarin dat van die slagoffers se familielede al vir haar gesê het hulle blameer haar nie. Sy is haar werkgewers, Michelle en dié se man, Michael, innig dankbaar dat hulle haar bystaan.

[caption id="attachment_124331" align="aligncenter" width="600"]Foto: Papi Morake Foto: Papi Morake[/caption]

Jenet het Dot nou die dag gevra: “Hoe ver kan ’n mens die tyd terugdraai?” Sy antwoord self: “’n Mens kan nie. Ek kan net vir ander ouers sê hulle moet baie meer betrokke wees. ’n Mens moet baie, baie fyn kyk.”

Al besef sy haar seun is en was ’n gevaar vir homself en die samelewing, steun sy hom steeds. “Ek sal eers afsluiting kan kry as ek vir seker weet hy kry die nodige hulp.”

[caption id="attachment_124332" align="aligncenter" width="600"]Foto: Papi Morake Foto: Papi Morake[/caption]

Meer oor skisofrenie

Dr. Melinda Lombard, ’n psigiater van Pretoria, sê die meeste skisofrene kan suksesvol behandel word en ’n redelik funksionele lewe hê.

“Dwelms kan enigiemand geweldadig maak; die mens hoef nie ’n skisofreen te wees nie.”

Volgens die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep is skisofrenie ’n veelvuldigepersoonlikheidsteuring wat by een uit elke 100 mense gediagnoseer word. Die skisofreen ervaar simptome wat dit moeilik maak om te weet wat werklik is en wat nie.

Simptome sluit in die hoor van stemme, paranoia en drogbeelde. Die risiko vir geweld is egter baie laag.

“Dwelms soos dagga kan skisofronie laat ontwikkel by iemand wat biologies reeds vatbaar is vir die steuring, maar dit sal nie die hoofoorsaak wees nie,” sê Melinda.

Melinda het benadruk Attie Müller se geval, waar hy opdraggewende hallusinasies beleef het, is baie ongewoon, selfs onder skisofrene.

Ander stories op Huisgenoot.com

Die porsiebeheerdieet – die dieet wat werk!

‘Hulle help my deur my donkerste tye’: Jong kwadrupleeg spandeer haar lewe om soos Barbie en Britney Spears te lyk

Kyk: AB de Villiers se vrou, Danielle, het ’n verborge talent en ons is gek daaroor!

Kyk net hoe oulik kap Kurt Darren se klein Kyrah dit uit!

Kyk net wat vang dié vrou met haar werkgewer se sap aan!