Die biologiese pa van die vermoorde blouoog-kleuter Poppie van der Merwe het Maandagmiddag, ses dae ná sy kind se dood, steeds so gehuil dat hy skaars met Huisgenoot kon praat.

“Ek is moeg. Ek is deur hel. Ek kon al van Woensdagnag nie slaap nie,” het Christo van der Merwe (38), ’n diesel-werktuigkundige van Westonaria aan die Wes-Rand, gesê oor hoe dit met hom gaan te midde van dié tragedie.

[caption id="attachment_143472" align="alignnone" width="500"]Christo van der Merwe, Poppie se pa. Foto: Verskaf Christo van der Merwe, Poppie se pa. Foto: Verskaf[/caption]

Mense landwyd is geruk deur die dood van die pragtige driejarige blonde meisie van Brits wat na bewering wreed aan die hand van haar stiefpa, Kobus Koekemoer (43), gesterf het. Kobus word nou van haar moord aangekla.

“God, ek weet sy is by U, Amen,” het Christo Sondag op sy Facebook-blad geskryf. Hy het dit weer gesê toe Huisgenoot hom telefonies kontak. “Ek troos my daaraan dat my Poppie veilig by Jesus is. Ek was so geseënd gewees...”

Hy vertel hy het oor die jare sy kind bitter min gesien.

Lt.kol. Pelonomi Makau, provinsiale polisiewoordvoerder in Noordwes, het aan Huisgenoot bevestig die voorval waartydens Poppie oorlede is, het verlede Woensdagaand op 'n plaas naby Mamogaleskraal buite Brits gebeur waar Poppie by Kobus, haar ma en boetie gebly het.

Pelonomi sê die lykskouingverslag wat al Poppie se beseringslys, is nog nie bekend nie, maar die kleuter het glo besering oor haar hele lyf opgedoen. Die dogtertjie is met haar aankoms by die Brits-hospitaal dood verklaar. Die hospitaal het die polisie gekontak waarna Kobus dieselfde aand aangekeer is.

Talle mense gaan na verwagting by die plaaslike landdroshof opruk wanneer Kobus, wat op ’n klag van moord teregstaan, Donderdag om borgtog aansoek doen.

Pelonomi sê sover die polisie se kennis strek, is daar geen vorige klagte van huishoudelik geweld in die Noordwes-provinsie teen Kobus gemaak nie. Sy sê wel hulle was nuut in die omgewing nadat hulle van Hopetown in die Noord-Kaap daarheen verhuis het.

Die Facebook-groep Justice for Jayde, wat hulle ook vir geregtigheid vir die moord op die onderwyseres Jayde Panayiotou van Port Elizabeth bewyer, het ook besonderhede en foto’s van klein Poppie se dood gedeel.

Kobus verskyn Donderdag in die landdroshof op Brits.