DIE mure van sy kinderkamer is toegeplak met foto’s en koerantknipsels van sy pa. Rashard Fuller (11) se kamer lyk soos ’n fotogalery wat die lewe en loopbaan van Herschelle Gibbs vier. En as hy saans in die bed klim, is dit in een van Herschelle se Groen-en-goud-kriekethemde, sodat sy pa nie so ver weg voel nie.

‘‘Ek slaap elke aand in my pa se hemp, hy het dit vir my gegee. Ek wil eendag nes hy wees,’’ sê die knapie met sy stout laggie nes dié van die Protea-kolwer.

Herschelle is Rashard se rolmodel en held. Dis net hierdie ding met sy pa se eksvrou, Tenielle, wat Rashard se oë laat vertroebel. Hy kan nie verstaan hoekom mense nou sulke nare dinge oor sy pa sê nie.

Tenielle se ouers, Dean en Clarissa Povey, het onlangs beweer Herschelle het hul dogter afgeknou en aangerand toe die twee getroud was (Hel saam met Herschelle, 4 September 2008).

‘‘Ek glo nie die stories oor my pa nie, dis alles leuens. Ek ken my pa, hy is nie so nie. Dis nonsens,’’ sê hy.

Rashard het in Januarie nog saam met Tenielle en sy pa in die Kaap vakansie gehou. ‘‘Sy was gaaf, sy was net goed vir my. Maar dis beter dat sy en my pa nie meer bymekaar is nie – hulle het heeltyd baklei.

‘‘Ek ignoreer maar die stories oor my pa, dis onregverdig teenoor hom.’’ Hy vou sy hande in sy skoot en sê met ’n skor stemmetjie: ‘‘Maar dit maak my nogal kwaad . . .’’

Liesl Fuller, Rashard se ma, sê haar kind praat nie sommer oor sy gevoelens wanneer die media Herschelle kruisig nie.