[caption id="attachment_168287" align="alignnone" width="600"]Robert Jacobs is die naweek tragies dood nadat hy Vrydag (7 April) in ’n kuierplek in Vanderbijlpark ineengestort het. Robert Jacobs id die naweek tragies dood nadat hy Vrydag (7 April) in ’n kuierplek in Vanderbijlpark ineengestort het.[/caption]

Roberto (23) en sy pa, Robert (47), ’n plaaslike mielieboer, het Donderdagaand (6 April) by die Infinity-kroeg ontspan toe ’n bakleiery uitbreek.

“Die volgende oomblik het ek iemand hoor skree, ‘Die man het geval!’,” vertel Roberto oor die kroeggeveg wat volgens hom sy pa se lewe geëis het.

Hy sê hulle het rustig gesit en gesels toe ’n geveg naby hulle uitbreek. Terwyl pa en seun probeer het om die bakleiery stop te sit, het ’n hou die pa teen die kop tref.

“Toe ek omkyk, het my pa op die vloer gelê met bloed wat by sy kop uitloop.”

Roberto het met sy pa na die Sebokeng-hospitaal in Vanderbijlpark gejaag en hy is later oorgeplaas na die Baragwanath-hospitaal in Johannesburg . Sondag, skaars twee dae later, is hy in die hospitaal oorlede.

Sersant Gertrude Makhale van Vanderbijlpark se polisiekantoor het bevestig dat ’n saak van aanranding reeds oor die naweek aanhangig gemaak is. Ná Robert se dood is dit verander na ’n moordondersoek.

Deon Bester, mede-eienaar van Infinity, wou nie kommentaar oor die voorval lewer nie. Hy sê daar is ongelukkig geen beeldmateriaal van die voorval beskikbaar nie omdat hulle as nuwe eienaars nog besig is om die kroeg op te knap.

Die gesin wag nog vir die uitslag van die nadoodse ondersoek. Benewens Roberto laat Robert ook sy vrou, Izan (46), dogters, Theoline (30) en Mikie (21), en twee kleinkinders agter. ’n Roudiens word na verwagting volgende week in Oranjeville gehou.