KAIZER NGWENYA onthou ’n Selebi van ’n ander era.

Bespreek vir Skouspel!

IN ’N donker stegie agter die Via Afrika-boekwinkel in Westgate, Johannesburg het ek as jong lat my eerste voorsmakie van onwettige bedrywighede gekry.

Hier, het ek en my vriende gehoor, kry jy winskopies by ’n student wat as winkelassistent daar werk en skelm vir jou voorgeskrewe boeke en skryfbehoeftes sal verkoop.

Dit was in die vroeë sewentigerjare en die bonkige entrepeneur met sy Afro-haarstyl en rammetjie-uitnek houding was niemand anders nie as Jackie Selebi, later Suid-Afrika se nasionale polisiehoof en die man wat nou pas skuldig bevind is aan bedrog.

In 1973 het ons die gladdebek boekverkoper nog beter leer ken as ons geskiedenis-onderwyser in matriek by Musi High in Pimville, Soweto.

Sy vakgebied was Suid-Afrikaanse en Europese politiek, maardie helfte van sy klasse het hy gewoonlik afgestaan aan politieke praatjies, opruiende toesprake wat hy so met ’n sigaret in die hand gelewer het. Hy was ’n goeie leermeester, en ook ’n regte dwarstrekker, ’n vet kêrel in stywe jeans en bruin leerstewels, en ons was dol oor hom.

Hy was vol bewondering vir die skoolhoof, Colbert Cokile, en het sy manier van stap, sy gewoontetjies en die manier waarop hy sy kop skuins gehou het wanneer hy oor die een of ander historiese gebeurtenis gepraat het, slaafs nagemaak.

Ons het vir Jackie “die dansende oliebol” genoem oor die manier waarop hy deur die klas gewaggel het.

Sjebiens was sy gunsteling-uithangplek en hy was nie skaam om ’n paar biere saam met ons ouens te knak as hy ons daar raakgeloop het nie. Niks het hom blykbaar gepla nie, ook nie die feit dat van sy leerders strawwe rokers was nie. Jackie het trouens gereeld sigarette by ons gebedel.

Een oggend het iemand gevra of hy toilet toe kon gaan om ’n sigaret te gaan rook. Jackie het gesê hy moet bly sit.

“Ek wil nie gesteur word deur jou wat uitstap terwyl ek klas gee nie,” het hy gesê. “Rook hier in die klas.”

En die meeste van die ouens het toe sigarette aangesteek en rookbolle uitgeblaas.

Hy was in die sop daaroor, en dit was nie die eerste keer dat hy in die hoof se kantoor beland het nie. Daar was ook die verhouding wat hy met ’n meisie in ons klas, ene Bontle, gehad het . . .

Glen Agliotti

Toe die fluisteringe ’n paar jaar gelede begin het dat Jackie vriende is met Glenn Agliotti, selferkende rampokker en dwelmbaas, het ek met ’n ou skoolvriend gesels. “Ek’s nie verbaas nie,” het hy gesê.

“Dit klink soos Jackie van ouds. Onthou jy hoe dol was hy oor Mafia-stories?”

Ek het onthou, ja. Een van sy gunsteling-boeke was juis Honour Thy Father, die biografie van “Crazy Joe” Bonanno, die berugte New Yorkse Mafiabaas. Iemand wat jou baie laat dink aan Jackie se beste pel, Glenn . . .

SES jaar later het ek Jackie weer gesien by die kantoor van die Post-koerant waar ek toe gewerk het.

Hy was woedend, en op soek na ’n fotograaf wat verantwoordelik was vir ’n foto van sy meisie wat in die koerant geplaas is. Jackie het hom opgespoor, hom verwoed aangerand en soos ’n besete olifant getrap.

Die man was drie dae in die hospitaal en het steeds ’n duik in sy skedel. Die hartseerste van Jackie se verhaal is dat hy ’n man met soveel potensiaal was. Ons het toegekyk hoe ons eertydse onnie se loopbaan saam met ons jong demokrasie van krag tot krag gaan.

In 1994 het hy ’n parlementslid geword en toe ’n baie bekwame ambassadeur vir ons land by die Verenigde Nasies. In 1998 is hy selfs met ’n internasionale menseregtetoekenning vereer vir sy toewyding aan reg en geregtigheid.

Kyk hoe bedrewe en wel ter tale is die man, het mense gesê. Hy’t groot lof gekry toe hy die departement van buitelandse sake as direkteur reggeruk het. Toe stel Jackie se groot vriend en struggle-kameraad oudpres. Thabo Mbeki hom in 2000 aan as nasionale polisiehoof.

En in 2005 bereik Jackie die hoogste sport toe hy verkies word tot president van die internasionale polisie-organisasie Interpol. Van flambojante boeksmous tot die wêreld se toppolisieman – wie sou dit ooit kon raai?

Lewenstyl

As polisiehoof het Jackie byna ’n miljoen rand per jaar verdien, net ’n rapsie minder as die president, maar dit was blykbaar nog nie genoeg vir die lewenstyl wat die “chief” begeer het nie.

Jackie se polisie-uniform was nog kraaknuut toe die geld begin inrol het van sy vriend Glenn.

Eers was dit net R5 000 hier, dan nog R10 000. Later sommer reuse kontantbedrae op ’n slag – R120 000 en R200 000. Die twee vriende het dikwels saam gaan inkopies doen in Sandton City en die peperduur pakke en skoene was vir Glenn se rekening. Dan het hulle gaan uiteet by een van die spogrestaurante in Sandton.

Vir haar verjaardag het Jackie se vrou, Anne, ’n Louis Vuittonhandsak van R10 000 van Glenn present gekry, en Jackie se twee seuns is bederf met ontwerpersklere van die spogboetiek Fubu in Sandton.

Uiteindelik het al die geskenke meer as R1,2 miljoen beloop, het die hof gehoor. En in ruil vir die luukses het Jackie se pel strategiese inligting en insae in geheime polisiedokumente gekry.

Miskien sou niks hiervan ooit uitgekom het as die mynmagnaat Brett Kebble nie vermoor is nie, want toe kom Jackie en Glenn se vriendskap op die lappe.

Maar dat Jackie uiteindelik vasgetrek is, is ook te danke aan die onverpoosde speurwerk van die sekerheidsman Paul O’ Sullivan wat die korrupte polisiehoof byna 10 jaar lank ondersoek het.

Dié vurige Ier het lont begin ruik nadat hy onregmatig as veiligheidshoof van die lughawemaatskappy afgedank is. Paul het op inligting afgekom wat Jackie se betrokkenheid by die skaduwêreld van georganiseerde misdaad onteenseglik bewys het, en die Skerpioene het sy spoor gevat. Dit was die begin van die einde vir Jackie.

Al sekerheid wat Jackie nou het, is dat sy glanslewe iets van die verlede is. Hy sal iewers R15 miljoen moet kry om sy regsgelde te betaal en om te appelleer gaan hom meer as R500 000 uit die sak jaag.

Die seuns wat destyds in sy klas gesit en elke woord ingedrink het wat by sy mond uitgekom het – wie van hulle sou ooit gedink het dit sou so eindig? Jackie wou die lekker lewe hê, maar êrens langs die pad het hy vergeet dat vraatsug tot korrupsie kan lei.

En nou is die lekker lewe sekerlik vir altyd verby.