VIR die wêreld is hy Madiba, die man wat ’n reënboognasie saamgebind het en dalk die grootste lewende politieke ikoon ter wêreld.

Vir haar is hy net haar man. Haar sielsgenoot.

Die een skoen waarsonder sy nie kan loop nie.

Graça Machel (64) lyk byna weemoedig waar sy rustig op ’n sitkamerbank  oor oudpres. Nelson Mandela (92) sit en praat.

Skuins voor haar staan ’n lewensgroot portret van haar geliefde wederhelf. Haar oë word klein en haar stem sag terwyl sy in ’n openhartige televisieonderhoud vertel hoe swaar dit is om Madiba by die dag te sien ouer word.

In die buitewêreld se oë is hy steeds die man wat in 1990 arm in die lug uit die tronk geloop het. Die 72-jarige man wat Suid-Afrika se eerste demokratiese president was. Maar dis nie die geval nie, erken Graça. Die ouderdom is besig om hom in te haal.

“Ons is baie gelukkig om hom vir so lank al te hê. Ons moet dit erken. Madiba het gesien hoe baie van sy drome op baie maniere waar word. Selfs hierdie Wêreldbeker. Die feit dat hy daar kon wees . . . hy is gelukkig, maar ons is ook gelukkig dat ons sy vryheid al vir so lank met hom kan deel.”

Die wêreld dink nie aan hom as bejaard nie, maar net soos enige ou mens kan hy ook soms hardkoppig raak, laat skemer sy fyntjies deur.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 29 Julie 2010