SY HET die ergste begin verwag.

Haar man was veronderstel om iewers op die see met hul seiljag te wees op pad van Florida na New York, en sy het toe al twee weke lank niks van hom gehoor nie.

“Asseblief, God, help tog net dat hy nie dood is nie,” het sy gebid.

Maar toe kom die nuus wat haar wêreld omkeer.

“Jou man is in die tronk op aanklagte van diefstal,” het die speurder oor die foon uit Florida gesê. En toe vervolg: “Maar waar pas jy in die storie in? Hier is dan ’n ander vrou wat saam met hom op sy seiljag bly. En volgens jou man is hy besig met ’n lelike egskeiding in Suid-Afrika.”

Debbie Hill (47) van Knysna bewe steeds as sy hieroor praat.

“My keel het heeltemal droog geraak toe ek dit hoor. Die verraad! Ek het gevoel ek gaan flou word. Ek wou dit nie glo nie, nie ná alles wat ek oor die jare maar net gesluk het in die naam van liefde nie.

“Ja, ek was lief vir Guy Hill, en ek het sy twee seuns saam met my drie dogters soos my eie grootgemaak. Daar was gerugte van affairs, maar ek het gekies om hom te bly glo.”

Sy praat driftig. Die een oomblik is sy hartseer en teleurgesteld, maar meestal is sy woedend dat sy 14 jaar lank by dié man gestaan het.

Die woede is nie net oor die ander vrou nie. Hy en sy pa het haar ook omgepraat om borg te teken vir hul wankelende maatskappye, en nou is sy geswartlys met R4 miljoen se skuld.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 9 September 2010