DIS skuins ná vieruur toe die blondekopseuntjie na die skuur op die wildplaas skarrel en ’n sak vol lusern stop. By die kraan teenaan die skuur tap hy gou vier plastiekbottels vol water. Hy’s haastig en kyk kort-kort hoe ver die son nog bo die horison sit. Sy vriende wag al vir hom, glo hy, hulle wéét mos hy kom elke middag dié tyd kuier.

Terwyl Luke Michaelides (13) met sy swaar las die pad vat na ’n kampie op die plaas wat sy ouers hier buite Vaalwater in Limpopo bestuur, stuur ma Marion ’n skietgebed op: “Beskerm my kind, hou Luke asseblief veilig . . .”

Marion bid elke middag die tyd om terwyl haar eersteling by sy vriende in die kampie kuier. Eers wanneer hy teen skemer terugkeer huis toe, haal sy weer rustig asem. Want klein Luke se beste maats sou sy lewe in ’n oogwink kon neem – hulle is immers twee buffels.

Hoewel ma Marion en pa al maande lank bekommerd is dat die buffels Luke op ’n dag sal stormloop en sy tenger lyfie stukkend gaffel, steur die seuntjie hom nie aan dié vrese nie. Hy weet grootmense glo buffels is beduiwelde, wispelturige diere, maar nie hý nie.

Want Hop-a-Long en Skip-a-Long, die buffels wat hy met die geduld van ’n kind makgemaak het, laat hom toe om hulle te streel, hulle om die nek vas te hou en selfs styf teenaan hulle te lê. Hulle lek hom in die gesig en gee nie om dat hy hulle elke nou en dan liefies op hul snoete soen nie.

“Hallo girls!” groet Luke die twee wanneer hy die hek van die kampie op hierdie herfsmiddag oopmaak. “Hallo, Hop, hallo, Skippie, hallo, my mooi meisies!”

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 8 Julie 2010

Bespreek vir Skouspel!