SY LYK nie siek nie. Sy lyk nie, soos sy dit stel, asof die verlede haar voete gesteel het en sy nie meer kan dans nie.

Maar jy hoef net na Liza Daniells se geswolle maag te kyk om te besef die vonkel in haar waterblou oë is bedrieglik. Sy het servikskanker. Sy is aan die sterf.

En dit is elke dag ’n pynlike herinnering aan haar verlede, toe sy die een dag nog as prostituut tussen satynlakens gelê het en die volgende dag daarvan weggestap het, net om op harde teerstrate te moet slaap.

Die donkerkopvrou maak sommer met die intrapslag verskoning vir haar voorkoms. “Ek is baie lelik. Dit het my lank gevat om verby my maag te kyk. Maar nou kyk ek verby dit, en verby die verlede. Ek kyk verby baie dinge,” sê Liza (46) en trek

selfbewus haar wit T-hemp reg.

Die kanker laat haar so swel, sê sy, maar vir chemoterapie sien sy nie kans nie.

“Ek het nog nooit gelewe nie. Ek wil nou probeer leef. As jy na die hospitaal hier in Polokwane gaan, kan jy net sowel tatta sê. Nee, alles wat gebeur het, het my voete gesteel. Ek kan nie meer dans nie. Nou wil ek weer leer dans.”

En haar eerste passies was om ’n toneelstuk oor haar lewe te skryf met die titel Van Satynlakens tot Teerstrate, en dit voer sy op 21 Augustus in die Pierneefteater in Pretoria op.

“Ek moes dit doen. Ek moet my storie vertel. As ek net een kind of vrou kan waarsku om nie in dieselfde strik te trap nie, sal ek kan dans. Ons moet praat oor dinge soos molestering en verkragting. Ons moet ophou plakkate verf en optogte hou na die Uniegebou waar ons ’n memorandum oorhandig. Ons moet met mekaar praat.”

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 29 Julie 2010

Bespreek vir Skouspel!