Maar toe kry hy die skok van sy lewe . . . Sy seun en naamgenoot se derms was dan buite sy lyf en het op sy maag versprei gelê.

“Ek was sprakeloos,” vertel die 25-jarige pa van Phalaborwa. “Ek het nie geweet wat om te dink nie. Ek het nie geweet of hy dit gaan maak en of die klein dermpies gaan hou nie.”

Klein Quintin is gebore met ’n toestand bekend as gastroskise – ’n geboorteafwyking van die maagwand. Dit behels dat die ingewande deur ’n gaatjie langs die naeltjie uithang.

[caption id="attachment_165448" align="aligncenter" width="600"]Foto: Sharon Seretlo Foto: Sharon Seretlo [/caption]

Lucille vertel sy was aanvanklik rustiger as Quintin omdat sy nie haar baba net ná die geboorte gesien het nie. Die teaterspan van die Van der Velden-hospitaal op Tzaneen het die kind dadelik na ’n noodkamer geneem en Lucille en Quintin saam oor die probleem ingelig. Daarna is Quintin na sy seun geneem.

Derms opgelig

’n Spesialis en die ginekoloog wat die bevalling op 17 November behartig het, het hul hande onder klein Quintin se derms ingeskuif, dit versigtig opgelig en met ’n silikoonsak toegedraai. Die sak is met kleefband aan sy magie vasgeplak.

Die dag ná sy geboorte is Quintin jr. per helikopter na die Dr. George Mukhari-hospitaal in Ga-Rankuwa, noord van Pretoria, oorgeplaas. Onder narkose is ’n klein snit in sy maag gemaak, waarna die silikoonsak aan ’n haak bo sy bed gehang is sodat dit vanself deur die snit in sy magie in die buikholte kon afsak. Dis daar waar Lucille hom die eerste keer gesien het.

“Gewoonlik duur dit so 10 dae tot die dermpies terugsak, maar met Quintin het dit net vyf dae geduur,” vertel Lucille. “Die laaste stukkie derm is toe tydens nog ’n operasie in die buik gesit en die snit weer toegewerk.”

In hul woonplek op Phalaborwa wys Lucille ons die knop op die baba se maag – al sigbare teken dat dinge nie alles wel was by geboorte nie. En klein Quintin? Hy slaap stroopsoet op sy ma se skoot, salig onbewus van al die drama.

Maar die drama was nog nie verby nie – Quintin het onlangs masels opgedoen en ’n lang pad lê nog vir die klein seuntjie voor weens ’n breuk wat ontwikkel het.

[caption id="attachment_165449" align="aligncenter" width="600"]Foto: Sharon Seretlo Foto: Sharon Seretlo [/caption]

“Sy magie het verlede week weer begin uitstaan en ’n punt gevorm,” vertel sy ouma Nita. “Sy derms funksioneer stadig en hy kry nou medikasie. ” ’n Klep by sy dermpies is foutief en hy sal later nog ’n operasie moet ondergaan. Hy raak ook dikwels hardlywig. Oor twee maande moet hy teruggaan na die Middelburgse pediater dr. Riekert Swart. Hy drink ook nou ’n spesiale soort formulemelk.

Geslag vergeet

Quintin sr. vertel hy het met daardie eerste glimp van sy seun so geskrik dat hy skoon vergeet het om uit te vind wat die geslag is. “Terug by Lucille het ek besef ek het skoon vergeet om te vra. In my skok het ek vir my ma gesê my kind lyk soos ’n klein alien.”

Die ginekoloog het Quintin en Lucille vertel dat net een uit 12 babas met gastroskise die bevalling oorleef. En al het hul baba die bevalling oorleef, was die kans steeds 50 persent dat hy later sou sterf.

Waar die baba in Lucille se arms slaap, is hy piepklein en sy armpies dun. By geboorte het hy 2,78 kg geweeg en nou, meer as twee maande later, weeg hy nog net 3,1 kg. “Hy moes nou al omtrent 5 kg geweeg het,” vertel Lucille. Sy het hom probeer borsvoed, maar hy het baie opgegooi en kry nou formulemelk.

Die paartjie woon in ’n tuinwoonstel op die erf van Nita en haar man en Lucille se pa, Richard. Quintin, voorheen ’n vlootbestuurder, is tans werkloos. Hy het nog ’n seun, Jayden (2), uit ’n vorige verhouding. Lucille het ook nog ’n seun, Johan-Hendrik Breytenbach (17 maande), uit ’n ander verhouding.

Kontaksport

Lucille sê niemand het onraad vermoed tydens haar swangerskap nie. Sy het presies ’n week voor haar beplande bevalling begin kraampyne kry en is hospitaal toe, waar die keisersnee die volgende dag gedoen is.

Dit is vir hulle onwerklik om terug te dink aan hoe hy daardie eerste ruk ná sy operasies in die hospitaal gelê het. “Daar was ’n pyp in sy neus, sy arm en albei sy voete,” vertel Lucille.

Sedert die operasies om sy ingewande weer in posisie te kry, het hy twee keer bloedinfeksies gehad, maar geen ander probleme nie. Hy sal wel nie eendag aan kontaksport kan deelneem nie. “Dit is te veel van ’n risiko; hy kan die sagte plek op sy maag en sy ingewande beseer,” verduidelik Quintin.

Hulle is net dankbaar dat die operasies op hul jongste bulletjie suksesvol was en dat hy ’n grotendeels normale lewe sal kan lei. Die “50 persent kans op oorlewing”-wolk oor sy koppie het gewyk. En eendag sal hulle vir hom kan vertel watter klein vegtertjie hy was.

[caption id="attachment_165447" align="aligncenter" width="600"]Foto: Sharon Seretlo Foto: Sharon Seretlo [/caption]

 Quintin se toestand

Gastroskise is ’n geboorteafwyking van die maagwand wat veroorsaak dat die baba se ingewande deur ’n gaatjie langs die naeltjie na buite hang. Dit word tydens fetale ontwikkeling veroorsaak, wanneer die maagwand nie behoorlik sluit nie.

Prof. Peter Beale, pediatriese chirurg van Parktown, Johannesburg, sê die oorsaak daarvan is nie regtig bekend nie. “Dit is algemeen onder ma’s wat kort tevore voorbehoedmiddels gestaak het, en is nie oorerflik nie.”

Peter skat sowat een uit 3 000 babas word met gastroskise gebore.

Die proses om die derms terug in die buikholte te kry, word infusie genoem. Die gedeelte van die derms wat buite is, word ná die geboorte in ’n silindriese silikoonsak geplaas en die bopunt daarvan aan ’n haak bo die bed gehang.

Aan die onderpunt van die silikoonsak is ’n buigsame ring wat die gaatjie in die maag netjies oophou. Die derms in die silikoonsak sak dan danksy hul eie gewig baie stadig terug in die buikholte in.

Indien nodig, word die gaatjie se wand dan chirurgies gesny om dit netjies te maak voor die sny toegewerk word. Babas wat met gastroskise gebore word, kan ná ’n suksesvolle infusie normaal leef.