'n Private roudiens word Donderdag 11:00 vir Martin van Breda (55), sy vrou Teresa (54), en hul seun Rudi (22) in Pretoria gehou.

Volgens die familie se woordvoerder, Ben Rootman, sal dit by by die NG Kerk Moreletapark plaas.

Martin, Teresa en Rudi is verlede week in hul huis in die De Zalze-gholflandgoed buite Stellenbosch met 'n byl doodgekap.

Die egpaar se dogter, Marli (16), en middelste kind, Henri (20), het die aanval oorleef. Marli het kritieke beserings opgedoen en tans in 'n stabiele toestand.

Intussen het eNuus 'n klankgreep bekom van 'n oproep wat Henri kort na die moorde aan die nooddienste gemaak het.

In die kort uitreksels van die oproep vra die operateur: “Oukei, watter soort beserings is daar?”. Henri antwoord: “Uhm... my, my, my gesin en ek is aangeval... deur 'n man... met ’n byl.”

Op 'n vraag van die operateur of die slagoffers ­bewusteloos is antwoord Henri: "Ja... en hulle bloei uit hul koppe."

Die polisie het Saterdag gesê niemand is nog in hegtenis geneem in verband met die voorval nie.

Bronne: Sapa, eNuus, Netwerk24