As jy op sitronella-olie staatmaak om muskiete af te weer, moet jy liefs ’n ander plan maak.

’n Studie wat in die tydskrif Science gepubliseer is, toon die sitronella-reuk skrik nie juis muskiete af nie. Die navorsing is gedoen op die Aedes aegypti-muskiet (draer van onder meer die Zika-virus en geelkoors), wat hoër op in Afrika voorkom.

Vir die studie het mense in ’n laboratorium in ’n windtonnel gesit en as lokaas gedien. Wetenskaplikes het toe verskillende afweermiddels gebruik en gekyk hoeveel van die muskiete in ’n nabygeleë hok na die proefkonyne vlieg en hoeveel afgeskrik word en in die teenoorgestelde rigting beweeg.

Uit die 11 afweermiddels wat getoets is, het ’n sitronella-kers van die swakste resultate opgelewer. Produkte met Deet (oftewel diethyltoluamide) as aktiewe bestandeel het dié pestilensie se belangstelling met 60 persent laat afneem.

Deet is die algemeenste aktiewe bestanddeel in insekafweermiddels. Peaceful Sleep-aansmeermiddels en ’n spuitkannetjie Tabard bevat van die hoogste konsentrasie daarvan.

Bronne: Science, Wikipedia, Review Article: Don’t let the bugs bite! A review of insect repellents