’n Groep amateurmusikante van Pretoria en Johannesburg het besluit om stemdag vir ander Suid-Afrikaners op te kikker.

[caption id="attachment_133172" align="alignnone" width="602"]Foto: Verskaf Foto's: Verskaf[/caption]

Die groep, wat hulself Jazz Cantina noem, het Woensdagoggend vroeg al by stempunte in Pretoria aangemeld om die mense wat in die ry staan, met hul musiek te vermaak.

Maar hulle het seker gemaak hulle trek self eers hul kruisie.

“Ons doen dit sommer vir die lekker. Ons speel gereeld by markte en hierdie is ook ’n geleentheid vir die ouens om ’n bietjie te speel en blootstelling te kry,” sê Darius Boshoff (30), wat klarinet speel.

Hy meen dit lyk darem asof die mense in die ry die musiek geniet. “Iemand het selfs vir ons Red Bull gebring,” sê hy.

Die groep bestaan uit sowat 10 werkende jong mans en studente wat al die afgelope twee jaar bymekaarkom om musiek te maak, sê Darius.

Volgens Darius is dit nogal uitputtend om heeltyd hul instrumente op te pak en weer uit te pak as hulle by ’n volgende bestemming kom.

image4

“Ons speel so 40 minute op ’n slag. Omdat dit ’n blaasorkes is, raak ’n mens nogal moeg,” sê hy. “Ons is vandag so agt of nege wat musiek maak en daar gaan dalk later vandag nog ouens by ons aansluit.”

Die groep kom gewoonlik een keer per week bymekaar om te oefen en tree sommige naweke by buitelugmarkte op.

Darius sê hulle het almal eens op ’n tyd, toe hulle jonger was, geleer om ’n musiekinstrument te bespeel, maar besluit om hierdie groep te vorm sodat hulle steeds hul passie vir musiek kan uitleef.

“Met hierdie groep probeer ons daardie talent nog koester. Ons doen dit vir die liefde van die musiek en om ons musiek met ander te deel.”

“Musiek het net een taal en dit praat met almal,” sê Tiaan Barnard (25) wat tromboon speel.

“Dit (musiek) is heeltemal neutraal en wys dat vandag eerder as ’n positiewe ervaring gesien moet word.”

Riaan van Niekerk (42), ’n IT-spesialis, sê hy hoop die musiek maak dat die tyd in die ry nie so lank voel nie.

Gerrie Kruger (21), sê dit is ’n wen-wen-situasie want hulle kry outmaties ’n gehoor en die mense in die ry het iets om na te luister terwyl hulle “verveeld” is.

Hulle het Woensdagoggend by verskeie stempunte opgetree, en het Woensdagmiddag die Laerskool Pretoria-Oos besoek.