Om genoeg wilskrag bymekaar te skraap vir die gimnasium kan ’n redelike uitdaging wees, veral na ’n lang dag op kantoor. Party mense gebruik musiek om hulle in die regte bui te kry – iets vrolik en opgewek om hulle aan te help op die trapmeul. Nou is daar bevind hoekom dit so goed werk.

Volgens ’n span navorsers help jou gunsteling-musiek jou liggaam om die gevoel van pyn wat jy ervaar, te verminder. Die rede hiervoor? Musiek het dieselfde effek op jou brein as wat dwelms soos morfien het. Met musiek word natuurlike pynstillers genaamd opioïedes vrygestel.

Daniel Levitin van McGill University, Kanada, het die invloed van musiek op die brein nagevors deur ’n dwelm te gebruik wat die opioïedeseine blokkeer het. Mense het gevind hul gunsteling-liedjies laat hulle nie meer so goed voel nie.

Musiek speel ook ’n rol in die vervaardiging van dopamien, ’n chemiese reaksie wat deur die brein vrygestel word en aan beloningsgemotiveerde gedrag gekoppel word. Dit word afgeskei kort voor iets aangenaam gebeur - soos byvoorbeeld wanneer jy daarna uitsien om na jou gunsteling liedjie te luister.

’n Groep wat oefeninge gedoen het, is gevra om op toerusting te oefen waar die liedjies by die spoed van hul roetine gepas het. Toe hulle gevra is hoe hard hulle geoefen het, het almal te laag geskat. Dit beteken hulle het veel harder geoefen as wat hulle gedink het.

Robin Dunbar van Oxford University het ook die verband tussen musiek en die brein ondersoek. Hy het sake ’n stappie verder geneem. In ’n onlangse New Scientist-uitgawe het hy verduidelik dat behoorlike interaksie met musiek – soos om te sing, te dans of ’n instrument te bespeel – jou pyndrempel nog verder verhoog.

Al hierdie navorsing het ’n groep navorsers tot die gevolgtrekking laat kom dat musiek ’n groot bron van pynverligting kan wees indien dit deegliker ondersoek sal word.

© Cover Media