Straatveërs van die antieke Peruaanse stad Trujillo het onlangs ’n gruvonds ontdek in ’n boks wat iemand langs die straat gelos het.

Daarbinne was die oorblyfsels van ’n 915 jaar oue mummie. Die mummie is glo gegaps van ’n nabye argeologiese uitgrawing en daar word vermoed die boewe wou dit later kom haal om op die swart mark te verkwansel.

'Ek het net die skedel gesien wat my koggel en gedink iemand is vermoor.'

’n Skoonmaker, Otilio Padilla Miramontes, vertel dat hy bykans aan ’n hartaanval gesterf het toe hy die boks oopmaak. “Ek het net die skedel gesien wat my koggel en gedink iemand is vermoor. Ek het dadelik die polisie gebel.”

Die polisie kon gou vasstel dit was nie ’n skelet van iemand wat onlangs dood is nie. Hulle ondersoek nou hoe die mummie daar beland het.

Die mummie word intussen veilig bewaar.

Bronne: news.com.au; latino.foxnews.com