Volgens Bridget Bhengu, ’n woordvoerder van MTN, gee ’n bedrieër voor om ’n agent van die MTN-oproepsentrum te wees en bel intekenare om hul sekuriteitsbesonderhede te versoek.

Die bedrieërs gee voor hulle benodig die inligting om ’n onwettige SIM-omruilingsversoek te blokkeer.

“Die bedrieërs bel onder die voorwendsel dat hulle besig is om ’n SIM-omruilingsversoek te stop wat sonder die intekenaars kennis of magtiging op hul nommer gemaak is,” sê Bhengu.

“Hulle gebruik dan die kliënt se antwoorde wat hulle in die oproep verkry om SIM-omruilingsbedrog te pleeg.”

Sy het ook die beskikbare opsies gedeel vir kliënte wat ’n legitieme SIM-omruiling wil doen.

“Met ’n SIM-omruiling is daar ’n paar opsies tot kliënte se beskikking. Kliënte met kontrakte moet ’n MTN-tak besoek om die SIM-omruiling te aktiveer, en daar sal van hulle verwag word om ’n identiteitsdokument te toon.

“Vooruitbetaalde kliënte kan ’n SIM-omruiling deur ’n USSD-kode doen, deur die oproepsentrum of deur ’n MTN-tak te besoek. Indien intekenaars ’n MTN-tak besoek, moet hulle ’n identiteitsdokument toon. Intekenaars wat kies om dit oor ’n afstand te aktiveer, sal sekerheidsvrae moet beantwoord.

“In ons voortgesette pogings om bedrog te bestry, doen ons weer ’n beroep op ons kliënte om nie op ongevraagde oproepe en versoeke vir sekerheidsbesonderhede van ’n onbekende nommer te reageer nie.”

Bronne: iol.co.za, sowetanlive.co.za