Kaapstad –

Fin24-gebruikers met 'n vooraf betaalde selfoondiens het selfoonoproepe van mense gekry wat beweer dat hulle Vodacom of MTN verteenwoordig en dan eis hulle betaling van meer as R2 500 vir databondels.

Maar dit is vermoedelik 'n skelmstreek.

“Ons wil dit op die rekord plaas dat Vodacom nooit gebruikers wat vooraf betaal sal bel of SMS’e stuur om ‘uitstaande bedrae’ te eis nie, want voorafbetaal-kliënte gebruik 'n diens waarvoor hulle reeds vooraf betaal het,” het Tshepo Ramodibe, Vodacom se uitvoerende hoof van korporatiewe sake aan Fin24 gesê.

Die skelms plaas druk op selfoon-intekenare om bankbesonderhede te verskaf of geld te betaal en dan bewys van betaling na 'n faksnommers te stuur.

“As 'n kliënt onreëlmatige aktiwiteite vermoed, moet hulle onmiddellik MTN se Kliëntediens via ons inbelsentrum in kennis stel. Ons benadruk dit weer eens dat ons kliënte nie hul persoonlike dokumente of besonderhede, soos bankrekening- en identiteitsnommers moet meld nie,” het Ike Dube, hoofbestuurder van Sakerisikobestuur by MTN SA, gesê.

Ramodibe het ook gesê die vakansieseisoen is 'n bloeitydperk vir skelms wat mense wil uitbuit.

Diefstal maak 'n deur oop

“Dit kom algemeen voor dat sindikate hierdie tyd van die jaar veelvoudige skelmstreke uitdink om geld uit niksvermoedende kliënte te suig. As deel van ons kliënte-opleidingsveldtog rakende hierdie kwessie, sê ons vir ons kliënte die goue reël is dat, wanneer iets te goed klink om waar te wees of dit lyk verdag, mense in hul pasoppens moet wees.”

Selfoondiefstal kan intekenare ook weerloos maak teen uitbuiting.

“As 'n apparaat wegraak of dit word gesteel, moet die gebruiker dit onmiddellik aan die polisie rapporteer en dadelik vir MTN skakel, sodat ons die SIM-kaart onaktief kan maak – dit sal verseker dat die SIM nie onregmatig gebruik kan word en jy as gebruiker maande later met 'n hemelhoë rekening sit wat jy moet betaal nie,” het Dube gesê.

Volgens Ramodibe monitor selfoonoperateurs nie die inhoud van SMS’e nie en dit bemoeilik die blokkering van kwaadwillige boodskappe.

“Ons kan nie die inhoud van alle SMS’e op die netwerk monitor nie – net soos die poskantoor ook nie jou pos kan nagaan om te kyk of dit oukei is voordat hulle dit aflewer nie. Wat ons wel kan doen, is om enige nommers wat die oorsprong van rommelpos of 'n verneukery is, te blokkeer.”

Apps wat kan help

Skelms sal moontlik mense wat nog nie slimfone ken nie teiken. Jy kan die boosdoeners probeer fnuik deur spesifieke toepassings af te laai wat kan help om jou teen hulle te beskerm.

Truecaller kan die selfoonnommers van mense wat jou bel, identifiseer en hulle kan sekere, sowel as onbekende, nommers blokkeer.

Mr Number blokkeer ook ongewenste nommers en SMS’e, terwyl ACR selfoonoproepe kan opneem.

Bron: Fin24

Lees ook: Vakansieslenter ry gewilde sanger se planne in die wiele

Lees ook: WhatsApp-slenter laat miljoene kwesbaar